Staan jy vir die waarheid, en die volle waarheid alleen?
Ons sal maklik uitroep: “Maar natuurlik!” Die meeste
van God se kinders staan in elk geval onder die meeste
omstandighede vir die waarheid.
Hoekom sê ons die “meeste”? Die probleem kom by die
uitleef daarvan. Ons leef nie doelbewus teen die waarheid
nie, maar daar is krake in die muur met die uitleef daarvan.
Ons dink dikwels iets is nie so erg nie, dit is nie die volle
waarheid nie, maar naby genoeg...
So gee ons weer en weer in, en raak ons vasgevang in
kettings van onwaarheid. Die bose sit ons net langs die spoor,
en dan weer ‘n bietjie verder, en dan weer...en later is ons ver
van die waarheid. Krakies word krake, en later val die muur om.
2 Johannes 1:2 sê: “Immers, die waarheid gee vir ons rigting in
die lewe. Dit sal vir ewig so bly.” Die Nuwe Lewende Vertaling sê:
“Die waarheid het in ons stewig inslag gevind en sal vir altyd by
ons wees.” Om vir die waarheid te staan is lewensbelangrik!
Enige ander pad mag op die korte duur aanloklik lyk, maar lei tot
die verlies van ware lewe...
Jy verloor jou vreugde en vrede, en die hoop verdwyn uit jou lewe!
Jy raak eensaam sonder die waarheid, want sonder die waarheid
klim die liefde ook uit. En jy sit alleen. Want net op die pad van die
waarheid loop die liefde saam! Die pad van die waarheid word ook
getoets aan die liefde. 2 Johannes 1:1 sê: “Ek het julle regtig lief
soos ‘n Christen iemand lief behoort te hê. Dit geld nie vir my alleen
nie. Almal wat God se waarheid leer ken het, het julle ook so lief.”
Die pad van die waarheid is besaai met liefde. Jy gaan nie liefde kan
saai as jy nie op die pad van die waarheid leef nie.
Liefde en waarheid, die een kan nie sonder die ander nie.
Ons weet God is die God van waarheid. Satan is die vader van
die leuen. God vra die volle waarheid, en niks minder nie.
Want God is liefde! Liefde en waarheid, onlosmaaklik.
Michael Green het gesê: “Moenie so arrogant wees om te dink
dat die waarheid niks groter is as jóú siening daarvan nie.”
Daarom, kom ons haal die vergrootglas uit en vra die Heilige Gees
om ons te wys waar daar krake in die muur van waarheid in ons
lewe is. William Barclay het ook gesê:
“’n Waarheid wat aan jou meegedeel word, vergeet jy gou;
maar daardie waarheid wat jy self ontdek, onthou jy lewenslank.”
Die Heilige Gees is die Gees van die waarheid en laat jou die
waarheid ontdek en daaruit leef. Die Gees help jou,
want net die waarheid maak weer die krake toe.
Ernest