Ons sal die pad van hierdie jaar nooit weer loop nie.
2013 is verby.

 

Ons wese is so dat ons nie kosbaarhede wil laat verbygaan nie.
Ons wil nie hê ons ouers moet oud word en sterf nie.
Ons wil nie hê ons kinders moet vir goed die huis verlaat,
en gaan grootmens wees nie.
Ons hou die meeste van die tyd nie van afskeid neem nie.
Selfs ons eie dood bly ‘n onsekerheid, ons wil nie die lewe laat verbygaan nie.
Ons hou ook nostalgies vas aan hierdie jaar.

 

Ons wese roep ook om die sekuriteit van iets wat nooit sal verbygaan nie.
Daar is twee sulke ewige dinge om aan vas te hou in die oujaar,
wanneer ook hierdie jaar nou verbygaan….

 

Matteus 24:35 is die een.
Jesus sê:
“Die hemel en die aarde sal vergaan,
maar My woorde nooit.”

 

2 Petrus 3:9 is die ander een:
“Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie,
al dink party mense so.”
God se beloftes gaan nooit verby nie.
Jesus kom weér!

 

En so, op die laaste dag van die jaar,
dink ons ook al weer aan die nuwe jaar!
Ons kom ook weer by die begin uit:
Die ewigheid waaruit ons voortgekom het,
en die ewigheid waarin ons steeds jaar na jaar reis.

 

Ons het iemand nodig om saam met ons te gaan,
in die oneindige tyd en ruimte te reis.
As hierdie reis nooit verbygaan nie,
as die lewe vir ewig is,
as die ruimtes oneindig is,
moet ons Iemand vind,
saam met Wie ons die ewigheid deurbring!
Ons het!
Skepper, Vader, Vriend!

 

Saam met Hom gaan die lewe nooit verby nie.
Net die jare op aarde.
Op hierdie kort en laaste Desemberdag,
kyk ons eerder vorentoe.
Saam met Openbaring 22:12-13,
kyk ons diep die toekoms in, met verwagting:
“Kyk, Ek kom gou!
Ek is die Alfa en die Omega,
die Eerste en die Laaste,
die Begin en die Einde.”

 

Ernest