Een onderwerp wat soos ‘n goue draad deur Johannes
se geskrifte loop is die liefde! So is dit ook in die tweede
brief van Johannes. ‘n Brief wat nie dikwels gelees word nie.
Vir Johannes is die liefde so belangrik dat hy ‘n vraagteken
plaas oor die lewe van iemand wat sê dat hy ‘n Christen is,
maar die liefde is nie deurlopend sigbaar in so ‘n persoon se
lewe nie.

Liefde moet in elkeen van ons ‘n werkwoord wees. Daarom
skryf hy in 2 Johannes 1:5-6: “...Ons moet mekaar liefhê!
Ek vra mooi. Ek vra nie nou iets wat ek nie voorheen van julle
gevra het nie. Dit is die ou opdrag wat ons nog altyd het. Liefde
is mos niks anders as om volgens die wil van God te leef nie.
En wat wil God dan van ons hê? Dít: wat ons doen, moet ons in
liefde doen. Ons weet dit al van die eerste dag af dat ons die
evangelie gehoor het.”

Liefde is die opdrag van God bo alle ander opdragte.
Onthou wat staan is 1 Johannes 4:12: “Niemand het God nog
ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het
sy liefde in ons sy doel volkome bereik.” Ons kan nie een van God
se gebooie uitleef sonder liefde nie. En as ons liefhet soos God dit
bedoel, voer ons sy gebooie uit! Liefde plaas ‘n vergrootglas op
verkeerde dade in jou lewe.

Paulus het die liefde teenoor ons medemens treffend opgesom in
Romeine 13:8-10: “Moet niks aan ander mense skuld nie, behalwe
om absoluut lojaal en vol liefde teenoor hulle te wees. As jy ander
mense liefhet, het jy die hele wet van God nagekom.
Al die voorskrifte in die wet – jy mag nie ‘n seksuele verhouding
met iemand buite jou huwelik hê nie; jy mag nie iemand anders
vermoor nie; jy mag nie iets vat wat nie aan jou behoort nie; jy mag
nie dinge begeer wat nie joune is nie, en al die ander voorskrifte –
kan in een enkele sin saamgevat word: jy moet vir jou medemens
net soveel omgee as vir jouself. Sulke soort liefde benadeel nooit
ander mense nie. Daarom, wanneer jy ander mense van harte liefhet,
gehoorsaam jy die ganse wet.” – Die Boodskap.

Wanneer jy elke keer uit liefde optree, weet jy dat jy binne die wil van
God lewe. Dit is wat liefde doen! Mag ons eenvoudig hierop pleit:
So help my God!

Ernest