Uiteindelik is Israel se tempel voltooi.
Die belangrikste simbool van God se teenwoordigheid
by sy mense was gereed. Maar nuwe lewe lê nie in
geboue nie, al is dit die tempel. Mense is nodig.
God werk deur mense. Mense wat die Here ken.

Daarom het die Here so iemand na sy volk toe gestuur:
Esra! Hy het uit Babel gekom. Esra was ‘n man wat die Here
se wet baie goed geken het. Hy het ook baie naby aan die
Here geleef. God stuur hom na Israel om sy volk in tyd van
nood te lei. Esra 7:6 vertel hoe die Here sy hand oor Esra
gehou het, sodat die koning hom alles gegee het waarvoor
hy gevra het.

Die Here wil vandag ook deur sy kinders werk. Hy stuur ons,
al kan Hy engele stuur. Vandag nog bemagtig God sy kinders
volledig vir wat hulle vir Hom moet doen as sy verteenwoordigers.
Doodgewone mense, toegerus deur die Heilige Gees in hulle!
Ook jy is ‘n gestuurde van die Here. Wees daar waar God jou wil hê.
En doen wat die Here wil hê jy moet doen. Jy is die regte persoon
op die regte tyd vir die Here, daar waar jy leef.

In Esra 7:27 staan daar dat Esra gesê het: “Geloof sy die Here,
die God van ons voorvaders!” God het die Persiese koning, Artasasta,
se hart sag gemaak teenoor Esra. Hy het vir Esra ‘n oop deur gegee in
Jerusalem om sy werk daar te gaan doen. Hierdie koning, ‘n heiden,
gee aan Esra al hierdie mag om al hierdie werk daar vir sy God te gaan
doen. So gebruik God hierdie heidense koning sonder dat hy dit eers
weet. Esra het besef hoe groot God se genade is om hom terug te
stuur na Israel toe.

God doen ook baie dinge in jou lewe en dit is moontlik dat jy nie eers
daarvan bewus is, of sy hand daarin sien nie. Kom soos Esra tot die
besef dat God groot dinge in jou lewe doen,
en loof en prys Hom daarvoor.

Ernest