Om vir God te werk is nie altyd maklik nie.
Om God se verteenwoordiger te wees in dit wat jy doen,
sal ook wêreldse teenstand bring. Dikwels beland ons in stryd.
Dit gebeur ook met die ballinge wat nou terugkeer na Jerusalem
toe om die tempel te herbou.
Esra 4:1 sê: “Vyande van Juda en Benjamin het gehoor dat die
ballinge besig is om ‘n tempel te bou vir die Here die God van Israel.”
Hierdie plaaslike “vyande” maak dit vir hulle baie moeilik om hulle
taak uit te voer. Hulle het later daarin geslaag om die bouwerk aan
die tempel heeltemal te ontwrig.
Dit is deel van die aardse werklikheid! Ongelowiges sal deurgaans
probeer om die Here se planne te dwarsboom. En hulle doen dit
deur gelowiges stil te probeer maak en hulle werk te dwarsboom.
Hulle sal byvoorbeeld sê dat Christenskap teen menseregte indruis,
of dat dit mense van ander gelowe aanstoot gee. Hulle maak dit
moeilik om te volhard op die pad van die Here. Dit is juis hulle doel.
Ons is in ‘n oorlog gewikkel met die magte van die duisternis.
Staan daarom sterk in die Here se diens. Moenie toelaat dat
mense jou van jou spoor af dwing nie. Moenie jou pos verlaat nie.
Efesiërs 6:14 sê: “Bly dan op julle pos...”, toegerus met die
wapenrusting van God.
Ons moet weet dat niemand ooit God se stem kan stilmaak nie.
Juis in hierdie krisis omstandighede tree twee profete van die
Here op wat stroomop swem ter wille van God! Esra 5:1 sê:
“In dié tyd het twee profete opgetree, Haggai en Sagaria seun
van Iddo.” Die Here stuur hierdie twee boodskappers van Hom
na Israel. God bly praat met sy kinders in nood. Hulle het die
volk kom aanmoedig om voort te gaan met die werk aan die
tempel. Hulle het die volk ook verseker dat God by hulle is in
hierdie tyd van swaarkry.
God se boodskappers is vandag nog orals aan die werk.
Geen aardse teenstand kon of sal God se boodskappers ooit
vergoed stilmaak nie. God se boodskappers is altyd stroomop
te vind. Hulle veg deurgaans stroomop teen die stroom van die
wêreld wat sy kinders wil meesleur.
Swem jy stroomop vir die Here, of dryf jy sonder weerstand saam
met die stroom van die wêreld?
Die Here roep ons opnuut op om in hierdie tye met waagmoed
sy stem te laat hoor. Ons mag nie toelaat dat die wêreldse geraas
en geskree mense doof maak om die Here se stem te hoor nie.
Staan nou op en gaan na die voorste linies om te veg vir die Here!
Ernest