Die wêreld gee nie op in teenstand teen die kinders
van die Here nie. Die vyande van die Israeliete het hulle
uiterste bes gedoen om die bouwerk aan die tempel te keer.
Later het dit uitgeloop op diplomatieke intriges wat tot op
die hoogste vlak gevoer is. Einde ten laaste is koning Darius
self hierby betrek. Nadat hy die Persiese rekords nagegaan het,
het hy in ‘n brief laat weet dat Kores wel vroeër toegelaat het
dat die Israeliete kon teruggaan om die tempel te herbou.
Daarom het hy vir al die goewerneurs in daardie gebied laat
skryf dat hulle die mense van Jerusalem moet toelaat om die
tempel te bou want hulle tree nie onwettig op nie.
Weereens werk God op onverwagte wyse deur ‘n onverwagte
gesag! Want Darius kondig selfs af dat mense wat die bouwerk
verhinder swaar strawwe in die gesig staar! Esra 6:7:
“Laat die werk aan die tempel ongehinderd voortgaan.”
God se planne word nooit aan bande gelê nie, al lyk dit soms op
die oog af of dit so is. God staan nooit verleë ten opsigte van
wêreldse teenstand nie.
God volvoer sy planne. Esra 6:15 sê: “Die tempel is voltooi op die
derde dag van die maand Adar...” Die belangrikste simbool van
God se teenwoordigheid by sy mense was weer opgerig.
Skielik was daar nuwe hoop in Israel.
Ons het tekens van God se teenwoordigheid nodig. Geleenthede
wanneer ons Sondae saam aanbid as ‘n geloofsgemeenskap.
Wanneer ons saam nagmaal vier. Of doopgeleenthede. Dit dien as
sigbare tekens van God se teenwoordigheid. Maar meer nog:
Ons is ook, as tempels van die Heilige Gees, God se verteenwoordigers
in hierdie wêreld. Leef dit so uit dat die wêreld duidelik sien aan Wie
jy behoort en Wie jy dien.
Ernest