Esra 1:2: “Hy het my beveel om vir Hom ‘n tempel in Jerusalem
in Juda te bou.” Aan die woord is koning Kores van Persië.
Dit is merkwaardig hoe God altyd weer nuut begin met sy mense
na krisisse. Min dinge was so traumaties soos die ballingskap vir
Israel. Dit was toe Jeremia as profeet opgetree het.

Die volk is slawe in Babel, en dan skielik en onverwags kom koning
Kores van Persië aan bewind! Hy is die nuwe wêreldleier, en hy laat
die Israeliete, bo alle verwagting in, terugkeer na Israel. Nog meer:
Hulle kan hulle grootste verlies, die tempel, gaan herbou! Die tempel
was die simbool van die teenwoordigheid van God by hulle.
En nog meer: koning Kores het dit as die opdrag van God beskou,
soos vers 1 sê, dat hulle die tempel moet gaan herbou. Daarom skenk
hy ook sommer die materiaal daarvoor!

God keer die mees hopelose situasie om, in ‘n oogwink!
Teen alle verwagting in!
God laat die onmoontlike gebeur. Selfs al lyk jou situasie hoe donker
en deurmekaar. Vertrou steeds op die Here om die onmoontlike te doen,
want niks is vir God onmoontlik nie. Hy stuur in die mees onverwagte
oomblikke hemelse uitkoms.

Wat is die volk se reaksie? Hulle het God begin loof en dank.
Esra 3:11 vertel dat hulle dit doen, “want Hy is goed...aan sy liefde...is
daar gee einde nie.” Lof is die hoogste eer wat ons aan God kan bring vir
sy goedheid en genade. Daarmee erken ons dat alles wat goed is van God
af kom. Hy is die Gewer van alle goeie gawes wat ons alleen deur genade
van Hom af ontvang. Die tempel het baie lank in puin gelê en dit was nou
weer tyd vir lof en feesviering.

Is daar vandag ook lof en dankbaarheid by jou vir die herstel van God in
jou lewe. Dat Hy jou optel uit die puin en jou herskep deur die Gees.
Herbou as ‘n tempel waarin Hy kom woon deur sy Heilige Gees. Loof jy
die Here vir sy goedheid in jou lewe? Vir die herstel om in Jesus weer
nuwe mens te wees. Tel jou seëninge en breek in lof uit vir God!
Hy oorlaai jou daarmee!

Ernest