Esra en die groot groep mense wat hom vergesel het

na Jerusalem het geen soldate gehad om hulle op die

lang reis te beskerm nie.

Daar was uiters kosbare skatte by hulle wat vir die tempel

bedoel was. Goud, silwer en kosbare gereedskap. Langs

hierdie hoofroete was baie rowers wat gereeld die reisigers

beroof het. Dit het Esra bekommerd gemaak. Ons is ook

dikwels bekommerd wanneer ons ‘n bepaalde reis moet

aanpak. Ons ken hierdie onsekerheid. Wat doen Esra in sy

omstandighede?  Esra 8:21: “Ek het daar by die Ahawarivier

‘n vasdag uitgeroep om ons voor ons God te verootmoedig...”

Voordat hy en sy mense vertrek het, het hy ‘n dag van vas en

gebed uitgeroep. Hulle wou doelbewus die Here hierin vra om

hulle te beskerm. Hulle wou doelbewus hul afhanklikheid van

God bely. Hulle het hulle doelbewus voor God verootmoedig.

Esra weet dat God alleen hulle uiteindelik kan beskerm.

Daarom gaan vra hy dit! Hy beklemtoon hulle vertroue op

God alleen om hulle te beskerm. Hulle is selfs bereid om later

te vertrek, en seker te wees God reis saam. God was inderdaad

getrou. Hy het sy beskerming aan Esra en sy groep gebied en

hulle veilig tot in Jerusalem gelei.

Ons kan Esra se voorbeeld volg. Gaan vra God om jou te beskerm.

Dit vra gebed en verootmoediging. Skuil by God. In Vers 31 staan

daar: “Ons God het sy hand oor ons gehou...” God hou ‘n hele

skare mense in sy hand. Lees gerus verse 1-14 daaroor.

God hou vandag nog die veiligste hand in die heelal oor ons.

In Johannes 10:28-30 vertel Jesus dat as jy eenmaal in God se

hand is, Hy jou nooit daaruit laat val of ruk nie. Niks kan jou uit

sy hand ruk nie! Niks nie! Dit is die veiligste plek in die ganse heelal.

Daar is plek vir al Jesus se volgelinge in God se hand. God se hand

raak nie vol of oorvol nie. En God kén elkeen wat Hy in sy hand hou

op sy naam. Maak soos Esra:

Plaas jouself met gebed en verootmoediging in God se hand.

Hy beskerm jou. Hy versorg jou. Vertrou Hom!

Ernest