Esra vertrek vol entoesiasme na Jerusalem en verwag
net soveel entoesiasme by sy aankoms in Jerusalem.
Hulle kon immers die tempel herbou en God nou weer
in die tempel aanbid!
Maar, Esra word stukkend geruk van hartseer oor wat hy
daar aantref. Dit het dalk ook al met jou gebeur, dat jy
stukkend geruk word deur iets wat teen jou verwagting in
gebeur. Dalk mense wat jou diep seermaak. Vir dae lank
dwaal jy stukkend rond. Dalk ‘n kind wat die spoor byster
geraak het. Of jou huweliksmaat wat ontrou aan jou is.
Of ‘n goeie vriend wat jou in die rug gesteek het. En die
seerkry sit soos rou sere aan jou.
Dit is hoe Esra gevoel het kort na sy aankoms in Jerusalem.
Hy het ‘n toegewyde volk van Israeliete daar verwag. Mense
wat die Here voluit dien. Hulle het tog pas die tempel herbou
en dit nog ook feestelik ingewy! En wat kry Esra daar?
Goddeloosheid om elke hoek en draai! Hulle het met heidene
ondertrou en hulle afgodsdiens en heidense gebruike oorgeneem!
Esra was stukkend oor sy mense se goddeloosheid en lewe sonder
God. Esra 9:3 sê: “Toe ek dit hoor, het ek my klere geskeur”.
Só stukkend was hy, dat hy sy klere geskeur het, sy hare uitgepluk
het en eenkant gaan sit het. Hy kon dit glad nie glo nie.
Hy rou oor mense wat hulle rug op God draai.
Ons probleem is dat ons dikwels net mense veroordeel wat hulle
rug op God draai. Ons gee nie verder vir hulle om nie.
Ons skryf hulle af.
Wat doen Esra? Hy tree vir hulle in by God! In vers 6 buig hy laag
voor God: “My God, ek is te skaam, ek het nie die vrymoedigheid
om my kop voor U op te tel nie. Ons sonde is hoog opgestapel...”
Ons kan soms net voor God gaan sit sonder om iets te sê. Veral as
ons vir ander intree en nie hul omstandighede of probleem verstaan
nie. Wanneer ons gemoed so vol is dat ons eintlik nie weet wat om
vir God te sê nie. Ons is eenvoudig net stukkend oor iemand of iets.
Jy kan net voor God sit daarmee.
Soos oor die duisende mense wat tans ly in ons ongekende
omstandighede. Mense in uiterste koue en sonder klere en huise
en water en kos... wat sê ons? Here...my hart is net so seer en
stukkend vir hulle...mense wat mishandel word, vroue en kinders...
ek weet nie eers mooi wát en hoé om te vra nie...Here.
Dit is wat Esra doen wanneer sy volk se sonde hom platslaan.
Wanneer hy wel met God begin praat kan hy nie anders nie as om
namens hulle skuldig te pleit. Sy mense se sonde is soos berge voor
God opgestapel. Dit het te hoog geword en gaan intuimel. Daarom
kan hy niks anders daarmee doen as om dit net in verootmoediging
namens die volk voor God te gaan neersit nie.
Stukkend oor wat mense aan God doen. Vers 10:
“Ons het U gebooie oortree....”
Dikwels leef ons so intens saam met mense dat hulle probleme ons
op ons knieë dwing. Ons kan eenvoudig net intree by God. Ons kan
niks anders doen nie. Maar, is dit nie die éérste wat God wil hê ons
moet doen nie? Om eenvoudig te begin by God en sy hart vir hulle.
Gebed is nie die laaste uitweg nie, maar die beginpunt vir mense
wat stukkend is. Dra hulle laste na God toe.
En ook vir ons eie lewe geld dit! Gebed is die beginpunt.
Nie die laaste uitweg nie. Tree in by God!
Ernest