Ons het so gewoond geraak aan skuldbelydenis.
Woorde kom sommer maklik oor ons lippe.
Woorde soos “vergeef ons ons oortredinge.”
Dikwels is dit byna ‘n nagedagte in die gebed...
“...o ja, vergeef ons ook ons oortredinge.”
Die gebed om vergifnis van sonde is soos ‘n refrein
aan die einde van die gebed. Ons bely ook maklik in
die erediens ons sonde, sonder om grondig ons
daaroor te verootmoedig voor die Here.
Sonde belydenis kan nooit “maklik” en alledaags wees nie.
Sonde is afskuwelik. God haat sonde. Kan jy dink hoe sleg
sonde is as God dit haat. Hoe kan mense wat sê dat hulle
God aanbid en Hom dien, so maklik in sonde baljaar en so
ligtelik sonde belydenis doen? Ons moet nooit gemaklik
raak met sonde nie. Ons moet dit ook haat, soos God.
Ons kan dit ook nie maar so in die verbygaan bely nie.
Kyk maar na Esra. Kyk net hoe intens raak sonde hom.
Ook die sonde van ander mense. Hy skaar hom ook aan
hulle kant en praat nie veroordelend van “hulle” sonde nie,
maar van “ons” sonde in Esra 9:15: “Hier is ons voor U met
ons oortredings, maar so kan niemand voor U staan nie.”
Hartseer staan hy voor God met “ons oortredings.”
Nou, belangrik: Sonde belydenis lei ook tot die
versterking van ons geloof! Om te glo vra baie!
Dit vra dat jy al die dinge wat in jou lewe belangrik is,
as van minder belang moet beskou as die wil van God.
Ook die wil van God ten opsigte van daardie dinge.
Toets alles in jou lewe aan dit wat God vra. Geloof vra offers.
Om op te offer ter wille van God. Dit het die Israeliete besef
toe Esra met hulle begin praat. En dit vra dan verbintenis aan
God se wil en die uitvoering daarvan! Toe die gemeente dit
besef het hulle “eenparig hardop geantwoord: “Alles wat u sê,
moet ons doen.” – Esra 10:12. Dit het hulle ontsettend baie gekos.
Die volk het ‘n plegtige onderneming gemaak om al die heidense
vroue en kinders wat hulle mislei het tot afgodediens weg te stuur!
Gaan lees gerus Esra 10 en sien wat kos die Israeliete se geloof hulle?
Wat het jy al opgeoffer vir jou geloof? Hoe getrou is jy in jou bydrae?
En in jou getuienis onder moeilike omstandighede? Wat sou jy sê is
die geloofs-offer in jou lewe wat jy konkreet aan jou lyf voel?
Hoe toegewy is jy werklik aan die Here, ten spyte van die “prys” wat
jy daarvoor moet betaal? Wat offer jy op in jou geloofsoortuiging?
Dink hieroor na en kom sit by die Here daarmee.
Geloof is nie ‘n winskopie nie. Geloof is baie duur.
Die kosbaarste gawe van God aan jou. Hou dit skoon en suiwer,
weg van die gemors van die sonde. Bid intens daarvoor!
Met skuldbelydenis, en dankbaarheid vir vergifnis.
Ernest