Dikwels hoor ons die woorde: “Ek probeer uitvind
wat God se wil vir my is?” Of: “God het ‘n plan met
jou lewe. Maak seker dat jy dit ontdek.”
Mense is dan baie onseker oor wat God se plan en wil met
hulle lewens is, asof God miljoene afsonderlike planne het.
‘n Aparte bloudruk vir elkeen se lewe. Mense leef onder
groot spanning dat hulle dan “dalk net” God se plan met
hulle lewe gaan mis! Ons hoor verder ook woorde soos:
“Daar is ‘n doel met alles”. “Wat moet gebeur sal gebeur.”
Die belangrike wat ons moet weet is dat ons nooit los van
Jesus oor God se wil kan praat nie. Jesus is die enigste Naam
en Adres van God se wil. Sonder Jesus is geen Bybelse gesprek
oor God se wil regtig moontlik nie.
Een van die belangrikste uitsprake oor God se wil kom in
Johannes 6:38-40. Wanneer die skare in Kapernaum vir Jesus
wil verskraal tot iemand wat maar net aan hulle behoeftes moet
voldoen, verduidelik Hy dat Hy die ware Brood uit die hemel is.
En dan gebeur die belangrike: Jesus verbind sy eie werk direk met
God se wil. Eenvoudig, sê Jesus dat God net een wil het!
En nie sewe biljoen afsonderlikes vir elke aardbewoner nie.
Hierdie een wil is naamlik dat niemand wat die Vader vir Jesus
gegee het ooit verlore sal gaan nie. In vers 39 en weer in vers 40
bevestig Jesus God se wil: Dat elkeen wat in die Seun glo die ewige
lewe sal hê!
Hoekom maak ons God se wil so ingewikkeld?
Mense wil ‘n unieke wil, as’t ware ‘n bloudruk vir hulle eie lewe uit
die Bybel forseer. Dan is ons, net soos die skare in Kapernaum, ook
op ons eie behoeftes gefokus, in plaas van op God se wil.
In die opsig maak ons God se wil indiwidualisties, op onsself gerig.
In plaas daarvan dat God se wil, in Jesus, op God gerig is!
Die regte vraag is nie “wat is God se wil vir mý lewe” nie.
Die regte vraag is: Hoe val ek met my hele lewe in by God se een wil
om vir mense in Jesus die ewige lewe te gee?! God se een wil is om
in Jesus die ewige lewe regdeur die wêreld bekend te maak en weg
te gee.
My keuses, hoe belangrik ookal, is hierop gerig. Huwelikskeuse.
Beroepskeuse. Verblyfkeuse. Al hierdie keuses word bepaal deur my
voltydse betrokkenheid by Jesus se sending om ewige lewe uit te deel.
Met my hele lewe. Met al die keuses in my lewe gaan dit daaroor om
God se koninkryk uit te brei tot redding van mense!
Ernest