Dit is groot genade dat God so eenvoudig oor sy plan
met ons in die wêreld praat. God vereenvoudig dinge
aansienlik deur nie met afsonderlike bloudrukke vir elke
mens op aarde te werk nie. God se wil is op Hom gerig,
Hy wat ons liefhet, en ons geskep het. Alles tot sy eer!
Johannes 6:39 stel dit so eenvoudig:
“Dit is die wil van Hom wat My gestuur het:
dat Ek van almal wat Hy My gegee het, nie een verlore sal
laat gaan nie, maar hulle almal op die laaste dag uit die dood
sal laat opstaan.”
God se wil is eenvoudig in Jesus geopenbaar!
En dit is dieselfde vir almal! Dit is so maklik verstaanbaar:
Aanbid God in Jesus Christus en wees so deel van God se koninkryk.
Werk in al jou keuses mee dat hierdie vrederyk sigbaar op aarde
realiseer. God se wil gebeur op hierdie unieke speelveld. Elkeen wat
dit snap, bid saam met Jesus in die Ons Vader uit hulle harte uit:
“Laat U wil geskied, soos in die hemel, net so ook op die aarde.”
Hulle verwag nooit van God om by hulle eie wedstryd-planne in te
val nie. Hulle weet dit werk andersom. Hulle fokus is nooit op hulle
eie lewens-planne wat hulle wil hê God vir hulle in detail moet
uiteensit en moet laat waar word nie.
God se wil is in sy Kind se sending na die wêreld om die wêreld te red!
Die grootste voorbeeld vir God se plan met ons lê in Jesus self. En dit is
dieselfde plan vir ons almal! Jesus se voorbeeld is dat Hy sy eie lewe
gegee het om God en mens met mekaar te versoen. Ons moet ook ons
hele lewe gee om in alles God en mens met mekaar te versoen!
God se wil vir ons lewe is om by die reddingsplan van Christus in te val.
In alles wat ons dink en sê en doen. Dit is God se plan vir jou lewe.
Wie of wat jy ookal in jou lewe kies is hierop gerig.
Die doel van God se ingrype in ons lewe is nie om ‘n hemelse helper
te wees in ons eie ideale nie, maar om ons te herfokus op die belange
van sý koninkryk!
Jy is in God se plan vir jou lewe as Hy, in Christus, deur die Heilige Gees,
die sentrum en die middelpunt van jou totale bestaan is. Hy is die Een
oor wie alles gaan.
As ons werk, in watter beroep ookal, werk ons eksklusief vir Hom.
As ons getroud is, met watter huweliksmaat ookal, leef ons in die huwelik
eksklusief vir Hom.
Wat ons adres ookal is, daar bly ons eksklusief vir Hom. Watter sport ons
ookal beoefen, ons doen dit eksklusief vir Hom.
As ons beplanning vir ons lewe doen, in watter rigting dit ookal ingaan,
is dit eksklusief vir Hom. As ons vakansie hou of sosiaal verkeer, doen ons
dit eksklusief vir Hom.
Maak nie saak wat jy ookal in jou lewe doen nie, dit is eksklusief vir Hom.
Sy wil vir jou is, in Jesus, vir sý koninkryk! Dit is God se plan vir jou lewe!
Fokus nou op hierdie eenvoud van God se wil vir jou, en leef vir Hom!
Ernest