Jesus se dissipels was op pad na Kapernaum op die see
van Galilea. Toe raak dit rof. ‘n Storm het opgesteek.
Na ‘n lang ruk se geroei en gespartel sien die dissipels
skielik vir Jesus op die water! Ja...Jesus is bo-op die water!
Hulle oë bedrieg hulle nie. Tog het hulle bang geword.
En verstaanbaar. ‘n Mens verwag nie iemand wat op die
water loop terwyl jy besig is om vir jou lewe te roei in
dieselfde water nie! Toe sê Jesus vir sy dissipels:
“Dit is Ek; Moenie bang wees nie” – Johannes 6:20.
Eintlik sê Hy: “Ek is! Moenie bang wees nie.”
Veral sy woorde: “Ek is!”, is aardskuddend. Dit is die
einste woorde waarmee God Hom aan Moses openbaar
het by die brandende braambos! - Eksodus 3.
Weereens is dit openbaringstaal. Hier op die see van Galilea.
En ook op die stormsee waarop jy kan beland in jou lewe.
Dit gaan in hierdie krisis meer oor Wie Jesus is, as oor hulle
krisis. Dit gaan bo alles oor Jesus wat sy eie Godheid in hierdie
storm openbaar. Immanuel, God by ons, God by hulle, loop na
hulle toe op die water! Die Here is midde in die krisis volledig
teenwoordig! Hy is by sy bang dissipels op die boot, nog voordat
hulle Hom op die water sien nader loop! Hy gaan verder. Hy klim
bý hulle op die boot! Nie eers die stormwinde kan Jesus se dissipels
van Hom af wegwaai nie.
Midde in die lewens-storms is die Here ook aan boord in ons lewe.
Dit is Wie Jesus is. Eindeloos sterker as enige storm in jou lewe.
Hy is die almagtige Here. Hy loop nié na jou toe in die storm asof
Hy eers afwesig was en nou eers daar aankom nie. Hy weet van die
storm voordat jy daarvan weet. Hy ís by jou.
Deur die Heilige Gees ín jou, in die storm. Geen storm sal jou
oorweldig nie. Skuil by Hom. Hy is magtiger as die storms in jou lewe.
“Ek is!”...is steeds sy openbaringswoord aan jou!
Moenie bang wees nie. “Ek is”...bo alles!
Ernest