Baie mense se idee van die hemel is min of meer
‘n aardse volmaaktheid, soos hulle dit sou wou hê.
Luister mooi hoe mense oor die hemel skryf, sing en
praat. Die meeste mense wonder eintlik net in hoe ‘n
verhouding hulle sal wees met hul geliefdes wanneer
hulle eendag weer sáám, dáár gaan wees. Watter plek
hulle in die hemel gaan kry, en of hulle bymekaar sal
wees. Ander wonder selfs of hulle geliefde honde en
katte ook daar gaan wees. Hulle sien eintlik uit na ‘n
lewe soos hulle dit graag sal wil hê in totale harmonie
saam met hulle geliefdes.
Hoe presies dit sal wees weet ons nie...
Maar, min mense vra die vraag na Christus se teenwoordigheid
in die ewigheid. Hulle is meer gefokus op Jesus wat reeds op aarde
vir hulle die ewige lewe gee op grond van geloof in Hom. Intussen
is Hy besig om vir my plek te berei, en hopelik by my geliefdes.
Natuurlik gee Jesus die ewige lewe aan elkeen wat glo!
Ongetwyfeld wag daar ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde op al sy
geliefde kinders.
Tog gaan dit nie oor ‘n plek nie, maar bo alles oor ‘n Persoon!
Jesus Christus, die Here! Die hemel is presies daar waar Christus
die Here is. Hyself is die Lewe! Hy gee dit nie maar net nie.
Jesus is die Weg. Hy wys dit nie maar net aan nie. Jesus is die
Opstanding en die Lewe. Hy skenk dit nie maar net aan gelowiges
nie. Jesus is self die Brood van die Lewe. Hy is nie net die uitdeler
van ewige brood nie.
Dink net weer hieroor. Dit laat jou fokus reeds op aarde verander
oor vir Wie jy regtig leef! Vir jouself en jóú vooruitsig van die hemel,
of nóú reeds volledig vir Hom, en jou ewige lewe vir Hom!
Dit gaan nie hier oor ‘n plek in die hiernamaals waar ek en my
geliefdes sonder die kommer van die aardse lewe saam gaan wees nie.
Dan is Jesus maar net die voorsiener van een of ander lewenspolis vir
die hiernamaals, en dat ek eers dan die voordele daarvan gaan kry. Nee!
Dit gaan nóú, en tot in ewigheid net oor Jesus Christus die Here!
Die feit is: Jesus is die enigste Ewige Lewe! Of ek hier is, en of ek daar is,
Hy alleen is my Lewe. Hier leef ek in Hom en vir Hom. En ook daar gaan
dit net oor Hom!
Ernest