Op wie is jy regtig gefokus met jou hele lewe?
Op jouself en jou geliefdes, of op die Here. Verstaan mooi,
om op die Here gefokus te wees sluit nie jou geliefdes uit nie.
Maar ons kan so op ons eie behoeftes gefokus wees dat ons
die Here uit die oog verloor.
Ten diepste is ons behoeftes-aangedrewe. Ons is bodemlose
putte propvol eindelose behoeftes. Ons dink of glo gedurig dat
ons iets te kort kom. Alles wat ons sien wil ons hê. Ons is
deurgaans besig om op te gradeer.
Dit gaan dan ook nie anders op die geloofsfront nie.
Luister maar net na ons gebede. Tagtig persent is versoeke.
Vrae en verskuilde opdragte aan die Here. “Doen asseblief dit
of dat...” “Verander asseblief hierdie of daardie persoon...”
“Wees asseblief met hierdie gesin...” “Voorsien asseblief hierin
of daarin...”
Hierteenoor kan ons vra hoeveel van ons gebede is eenvoudig
net deurdrenk met lof en eer aan God. Aanbidding vir Wie Hy is
en wat Hy doen, sonder dat ek vra...
Hoeveel van ons gebede wil niks van God hê nie, behalwe die
voorreg om net by Hom te wees.
Ons moet drastiese koersaanpassing maak op ons gerigtheid in
ons lewe. En ons gebede wys dit alreeds. Ons is buitengewoon
selfgerig. Ons moet op die Here gerig wees, en nie op eie ek of
behoeftes nie. Ons moet leer dat God alleen genoeg is.
Sy heiligheid, grootheid, liefde, genade, ontferming, nabyheid...
Sy teenwoordigheid moet vir ons so oorweldigend wees
dat ons net by sy voete wil sit. In stille verwondering.
En ook opgewondenheid om reeds in hierdie lewe in die
teenwoordigheid van die Heerser van die heelal te wees
en dit met entoesiasme uit te leef.
Lof en dankbaarheid, eer en aanbidding, moet die suurstof van
ons gebede wees. Dan word ons geloofsbeker vol met die regte
inhoud. Dan oorweldig ons hemelse Vader se onuitspreeklike
rykdom en genade ons. Dan bid ons saam met Psalm 23:1:
“Die Here is my herder, ek kom niks kort nie.” Niks nie.
En ons bring lof en eer aan God saam met Efesiërs 1:3:
“Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe!
Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat
daar in die hemel is.”
Werklik! Ons kom niks kort nie! God is alles! God is genoeg!
Ernest