Ons kan baie maklik en selfs sonder om dit agter te kom
Jesus volg ter wille van onsself. Derduisende mense was
aan Jesus se voete toe Hy die brood en vis vermeerder in
Johannes 6 en hulle almal voed. Almal gelukkig en tevrede.
Maar die volgende dag weier Jesus om weer vir hulle brood
te maak. En Hy gaan staan en bederf die pret.
Let op, spesifiek die dissipels verstaan dit nie. Hulle wat die
binnekring volgelinge van Jesus is. Maar kyk wat gebeur ook
met die groter groep volgelinge wat ter wille van hulleself
agter Jesus aanloop. Hulle sê vir Hom:
“Wat U nou sê, is darem te erg.”

Dit is maklik om Jesus te volg as alles rustig is en ter wille van
jouself. Maklik om tydens ‘n erediens te sê dat jy “alles” vir
Hom gee. Wanneer dit egter jou gewildheid, tradisies, beginsels,
beroep en vriendskappe in gedrang bring, is dit totaal iets anders.
Jesus stel nie belang in ‘n groot skare nie. Daarom verlaat duisende
mense Hom binne 24 uur. Ook aanvanklike navolgers verlaat Hom
omdat Hy húlle nie meer dien nie. Dit is hulle rede sonder dat hulle
dit besef...

Die vraag is wat die rede en kwaliteit van jou eie navolging van
Jesus is. Wat kos ons dissipelskap ons presies vandag, hier en nou?
Vanaf derduisende tot slegs 12 binne een dag! Dit is hoe Jesus sy
dissipekring laat groei! Die regte soort groei kan kleiner wees.
Dit is nie getalle wat tel nie maar opregtheid en bo alles Jesus self!
Jesus meet nie geestelike sukses aan die hoeveelheid mense nie.
Die kerk doen dit ongelukkig. Ons dink sukses lê in getalle. Vir Jesus
gaan dissipelskap egter oor die regte verstaan en navolging van Hom!
Dissipels dien nie die Here ter wille van byvoordele nie.
Jesus alleen is genoeg! Net Jesus!

Wanneer Jesus vir Petrus vra of hy nie maar ook wil wegdraai nie,
maak hy die belydenis van sy lewe in Johannes 6:68:
“Simon Petrus het Hom geantwoord: “Here, na wie toe sal ons gaan?
U het die woorde wat ewige lewe gee.” Let wel, Petrus sê nie dat Jesus
se wonderwerke hom beïndruk en dat Hy in al sy behoeftes voorsien nie.
Nee. Hy bely eenvoudig dat Jesus se woorde gelyk is aan lewe!
Jy kan nooit genoeg hiervan kry nie. Dit alleen is waarvoor jy Jesus volg.
Hy is die lewe. Net Hy alleen!

Ernest