Een ding wat ons verseker weer in 2020 agtergekom het
is dat die lewe hoegenaamd nie voorspelbaar is nie.
Wie sou in Januarie van 2020 kon voorspel wat in die res van
die jaar sou gebeur. Wêreld- en geskiedenis ongekende tye!
Tog is dit nie iets nuut waarmee die Bybel onkant betrap is nie.

Dink maar aan die Prediker se wyshede. Dit het nie altyd
ingepas binne bestaande godsdienstige sisteme of binne stereotipe
opvattings van die samelewing nie. Kyk maar na sy lewensbelangrike
wysheid van Prediker 9:11:
“Ek het in hierdie wêreld gesien: dit is nie die vinnigstes wat die resies
wen nie, nie die sterkstes wat die oorlog wen nie, nie dié met wysheid
wat kos het nie, nie die verstandiges wat ryk word nie, nie dié met
kennis met wie dit goed gaan nie. Alles word bepaal deur tyd en
geleentheid.” Die lewe is dus nie voorspelbaar nie!

Let op Prediker se siening in 9:2: “Een en dieselfde lot tref almal:
die regverdiges en die goddelose, die goeie, die reine en die onreine,
die een wat offer en die een wat nie offer nie.” Ons ervaar dit in 2020
met die ongekende tye! Met ‘n dik pen trek die Bybel hier ‘n streep
deur die vergeldingsteologie wat so gewild was in die godsdienstige
kringe van Prediker se tyd, en vandag nog...

Nee. Dit is nie waar dat voorspoed ‘n teken is van seën, en teenspoed
‘n bewys is van straf nie. Enige een kan die “virus” kry!
Of dat dit met jou sal goed gaan op tydelike gebied in gesondheid en
welvaart as jy die Here dien nie. Hierdie beginsel geld ook die res van
die lewe. Dit is nie altyd die vinnigstes, sterkstes, of verstandigstes
wat voor in die ry van die lewe opeindig nie.

Die lewe het ‘n vreemde gewoonte om aan die “underdogs” of
“onderdruktes” ook ‘n kans te gee. God sien ook die “klein” en
“onbelangrike” mense raak. Hy skenk genade aan nederiges.
Ons moenie moed opgee as dit lyk of die lewe nie vir ons glimlag nie.
Ons hoef nie ryk, slim, sterk, of belangrik te wees om impak te maak
vir die Here nie! Ons is nooit slagoffers nie! God het ons lief!

Die lewe skuld ons niks. God skuld ons niks. Al het Hy ons tot die
uiterste toe lief. Let op die laaste deel van bogenoemde vers 11.
Die lewe gaan oor die aangryp van kanse om die Here te dien in
alle omstandighede, in die Here se Naam.
Ook in die mees onvoorspelbare omstandighede, soos in 2020.
Waagmoed en dapperheid is sinoniem met mense wat in die
moeilikste omstandighede die wêreld in God se rigting laat draai.
Gryp hierdie geleentheid aan om in die moeilikste tye van die lewe
‘n getuie vir die Here te wees in woord en daad. Doen dit vandag!

Ernest