Psalm 84:3: “Ek versmag van verlange na die tempel
van die Here; met alles wat ek is, wil ek jubel oor die
lewende God.”
In Johannes 6 het ons ‘n paar keer gesien dat Jesus sê
Hy is die lewende Brood. Wie die lewende Brood eet
sal nooit weer honger kry nie. Maar nou lees ons in
Psalm 84 van gelowiges se diep verlange na die Here.
‘n Groot hongerte na die Here!

Beide Jesus se woorde en die van Psalm 84 is tegelyk waar.
Enersyds is Jesus alléén genoeg! En andersyds is daar die diep
verlange na nog meer van Hom! Jesus gee die ware lewe vir altyd.
Hy stil ons geestelike honger vir ewig! En tog, binne die harde
realiteite van ons lewe op aarde is daar ‘n nimmereindigende honger
na nog meer van die Here! Nog meer van sy nabyheid en heiligheid.
Hierdie spanning tussen die wete dat ons die ewige lewe in Christus
hét, en die nimmereindigende verlange na meer van die Here se
teenwoordigheid, is natuurlik die geheim van geestelike groei!

Jesus alleen is genoeg. Net Hy stil ons honger. Net sy Gees oortuig
ons van die ewige lewe in Hom, en dat ons kinders van God is wat
vir ewig aan Hom behoort. Nogtans is dit dieselfde Heilige Gees in
ons wat ons voortdurend na God laat smag. Ons is aan die een kant
diep tevrede en innig dankbaar dat ons kinders van God is, en aan
die ander kant wil ons steeds net groei in ons geloof!

Ons twyfel, kommer en sonde maak ons soms benoud.
Ons liefdeloosheid en ongehoorsaamheid maak ons soms desperaat.
Ons voel soms of ons in die woestyn rondswerf. Ons roep saam met
Paulus in Romeine 7:15 uit: “Ek begryp self nie wat ek doen nie,
want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit
doen ek.”
Daarom dat ons ook so intens verlang na die Here! Ons smag na sy
aanraking. Die belewenis van sy teenwoordigheid. Ons wil bewus
wees van sy nabyheid. Psalm 84 verwoord dit. Dit is bedoel om ons
nader te trek na die Here. Dat ons God se heilige teenwoordigheid
nog meer kan en wil opsoek. En nog meer as ooit daaroor kan jubel,
sê die laaste deel van vers 3.

Ernest