Die sin en betekenis van die lewe gaan vir die meeste mense
hand aan hand met wat hulle doen. Wat hulle doen, sê wie
hulle is. Geen wonder nie dat mense rondskarrel op soek na
daardie een of twee “indrukwekkende” dinge om te doen wat
hulle erkenning by ander mense sal gee. Dit is egter nie wat
God van ons vra nie. Dit gaan nie om erkenning by mense of
prestasies in hierdie wêreld nie.

God het geen prestasie-klousules in ons lewe ingebou nie.
Ons word nie van vroeg tot laat deur God gemeet en geëvalueer
nie. Jesus het reeds die straf namens ons gedra toe ons God se
toets ten opsigte van gehoorsaamheid gedop het. Oor die kruis
staan genadiglik in Jesus se bloed geskryf: Ten volle betaal!
Hy het in ons plek aan al God se vereistes voldoen en God het
ons in Hom daarvan vrygespreek! Ons het vrede met God,
soos Paulus dit jubelend uitroep in Romeine 5:1: “God het ons
dan nou vrygespreek omdat ons glo. Daarom is daar nou vrede
tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus.”

Ons het tot rus gekom in Christus! Daardie eindelose druk om
heeltyd goed genoeg voor God te probeer wees, is in Christus
van ons af! Ons ís nou God se geliefde kinders! Ons het ‘n nuwe
identiteit. Nou kan ons ons lewensroeping verstaan en aan God
se voete tot rus kom. Nou kan ons opkyk na ons hemelse Vader
wat ons eindeloos liefhet en oor en oor vir Hom dankie sê met
ons lewe. Dit gaan nie meer oor alles wat ons vir Hom moet doen
om sy aandag te trek en erkenning te kry nie.

Die Here het jou ook nie gemaak om alles vir almal te wees nie.
Jy kan ook nie. Tog het Hy jou ook nie geskep om niks vir niemand
te wees nie. Die kuns en uitdaging van die lewe is om jouself voor
God te ontdek en dit dan tussen ander te gaan uitleef. Dit gaan nie
oor wat jy alles bereik het en waaroor jy beskik nie. Dit gaan oor die
vind van ons lewensroeping voor God.

En nou:
Hierdie roeping is om alles wat ons doen tot eer van God te doen!
Van die grootste tot die kleinste dingetjies. 1 Kor. 10:31:
“Of julle eet en of julle drink of wat julle ookal doen, doen alles tot
eer van God.” Wanneer God alles vir ons is, in ons hele lewe, wil ons
ook alles vir Hom wees met ons hele lewe. Ons grootste roeping is
om met ons hele lewe ‘n aangename geur vir die Here te versprei.
Vir Hom suurdeeg, en sout, en lig in die wêreld te wees. Oral. Altyd.
Ons hoogste roeping is nie om die wêreld of ander mense te probeer
verander nie.

Ons hoogste roeping is om te weet ons is herskep om
God se lof te verkondig in en met ons hele lewe!
Hy het ons syne gemaak vir tyd en ewigheid.
Al wat Hy van ons vra, is om sy teenwoordigheid te geniet,
en bo alles sy liefde met liefde uit ons eie hart te beantwoord.

Ernest