Deesdae voel dit asof alle plekke onveilig is.
Jy mag nie hieraan of daaraan raak nie. Jy moet
gereeld hande was en “saniteer”. Jy moet ‘n masker
dra en as’t ware agter ‘n masker leef! Jy voel eenvoudig
onveilig op voorheen veilige plekke. Selfs in die kerk sit
ons uit-mekaar! Wat sê Habakuk oor die onveilige plekke
waar hy moet loop?
Habakuk 3:19:
“Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos
dié van ‘n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop.”
Habakuk gebruik die beeld van ‘n ribbok wat veilig op hoë
plekke loop. Terwyl hy in geloof die moeilike bergspitse van
die lewe moet aandurf, is God tree vir tree saam met hom om
hom veilig te laat loop. Wanneer nog ‘n oes misluk, en daar
geen kleinvee in die kampe meer is nie, en ook nie beeste in
die krale nie, kies Habakuk nogmaals om, ten spyte van die
omstandighede, nié sy geloof te laat vaar nie.
En wat doen God? God laat hom nog ‘n stukkie hoër opklim
teen die berg van die lewe, en die groei in geloof. Al hoër en al
moeiliker, maar ook al hoe nader aan God se doel met sy lewe.
So klim Habakuk veilig ten spyte van die realiteit van omstandighede.
Van die een moeilike uitdaging na die ander. God bereik sy doel met
ons ten spyte van. Baie mense kry nie die Habakuk roete geklim nie
omdat hulle nie God vertrou met die roete nie. Hulle wil eers “sien”
voor hulle God onvoorwaardelik glo. Hulle wil “veilig” op die vlakte
rondsit, eerder as om bergspitse van die lewe saam met God aan te pak.
God werk anders: Waag dit in geloof om die lewe se bergtoppe aan te
durf! Geestelike waagmoed gee jou die voete van ‘n ribbok. God gee dit!
Waagmoedige geloof groei slegs in die harde praktyk van die lewe.
Die lewe is nie regverdig nie. Net God is. Die lewe is nie maklik nie.
Daarom moet jy jou kruis opneem! Soos Jesus.
Nie ‘n piekniekmandjie nie.
Maar jy kan weet Habakuk 3:19 is die waarheid:
“Die Here my God gee vir my krag...”
Geloof is nie iets wat jy “het” nie. ‘n Afgeronde pakkie nie. Geloof is ‘n
verhouding met God wat in die vuur van beproewing nuwe gestaltes
aanneem en sterker en sterker groei! Geloof lê nie veilig in die hawe nie,
maar gaan uit op die see om visser van mense te wees, ook deur storms.
Solank ons in veilige hawens sit, gaan ons geloof nêrens heen nie.
Habakuk gebruik die beeld van berge. Daar waar ons moet klim,
daar waar ons moet klouter en vashou, op smal lysies moet loop,
daar leer ons om God se hand stywer vas te hou. Want daar ontdek ons
hoe Hý óns vashou!
Saam met die Here ontdek ons dat ware veiligheid ook op onveilige
plekke te vind is. Ons idee van veiligheid is om onveilige plekke te vermy.
God skep egter veiligheid vir die wat binne sy wil leef, selfs te midde van
gevaar. Die veiligste plek om te wees is soms te midde van die gevaarlikste
omstandighede op aarde. As dit dáár is waar die Here jou wil gebruik en
leer om verder en hoër te klim, dan is jy veilig. By Hom.
Dan leer jy dat die lewende Here orals, en ook op elke plek, genoeg is!
Ernest