In die grootste storms is daar altyd groot geloofswaarhede
te leer. God is ook in die storms teenwoordig. Storms doen
net mooi niks aan God nie. ‘n Reuse storm of aanslag teen
ons, in ons eie oë, is soos ‘n stofdeeltjie vir die Allerhoogste
God! Wanneer ons dit net weer besef, word dit makliker om
saam met Petrus op die water te loop. Matteus 14:29:
“Kom!” sê Hy. Petrus het uit die skuit geklim, op die water
begin loop en naby Jesus gekom.” Ons onthou Petrus vir hoe
hy op die stormwater gesink het in vers 30. Maar Jesus onthou
hom verseker ook vir die feit dat hy vir ‘n hele klompie treë
bo-op die water na Hom toe gestap het! Eers toe hy sy oë van
Jesus af weggeneem het, het hy begin sink. Maar Jesus los
hom nie. Hy help hom uit die stormwater!
Geloof is om verby die sigbare “feite alleen” te kyk. Dit is om
in die storms en golwe steeds die Here raak te sien. Hy is reguit
op pad na ons toe. God troon uit bo elke krisis. Niks bring God
van koers af nie! Niks kan jou skei van sy liefde vir jou in Christus
nie! – Rom. 8:37-39. Weet dit. Glo dit. Kyk verby alles en sien vir
God raak. Die lewende Here sal tot jou redding verskyn.
Maak net jou oë oop en sien Hom in die storm!
Aanhoudende swaarkry steel dikwels ook mense se geloof.
Hulle dink God het hulle vergeet. Mense met ‘n gedurige stryd
om oorlewing begin dikwels twyfel. Hongerpyne, koue, siekte,
of wat ook al, beteken nie dat die Here jou hand gelos het nie.
Jesus los nie mense wanneer golwe oor hulle begin breek nie.
Jesus deel steeds brood, water, en genade uit.
Paulus is in haglike omstandighede in Efesiërs 3. Dan skryf hy
in vers 13: “Daarom bid ek dat julle nie moedeloos word omdat
ek om julle ontwil ly nie. Julle moet dit eerder as ‘n eer beskou.”
Terwyl hy in haglike omstandighede in die tronk is vir sy geloof,
skryf hy een van die mees aangrypende briewe van lof, oorwinning,
vreugde en genade in die Here. Hy sit nie op die ashoop en vra dat
mense hom jammer moet kry oor sy roeping nie.
Hy vra juis dat hulle by hom verby kyk, na die God van redding!
So lank as wat ons eie omstandighede ons identiteit of ons geluk
bepaal, is ons slagoffers. Eers wanneer ons leer om in die moeilikste
situasies aan God vas te hou, word ons regtig vry!
Daar groei ons geloof met verreikende gevolge!
Ernest