Diep dinge maak saak in die lewe.
Belangrike gebeurtenisse tel.
Ingewikkelde leerstukke het ‘n plek.
Slim en geleerde opinies moet ook gehoor en getoets word.
Tog gaan die lewe grootliks nie oor diep en belangrike dinge
alleen nie. Ons moet kos maak, klere was en stryk, kos maak
en opwas, beddens opmaak, brandstof ingooi, kinders rondry
en gereeld in toue staan op plekke.
As ons dit nie regkry om God ook hier te ontdek nie, en Hom
net in die groot en belangrike dinge soek, gaan ons ‘n baie groot
deel van sy betrokkenheid by ons misloop. Dan gaan ons byna net
“toevallige” en beplande ontmoetings met Hom hê en ‘n groot
deel van sy betrokkenheid in ons lewe misloop.
God is veral ook in die alledaagse teenwoordig.
Robert Runcie, ‘n eertydse aartsbiskop van Canterbury, het gesê:
“The church is like a swimming pool; the splashing goes on at the
shallow end.” Die grootste deel van die kerk se aktiwiteite gebeur
eintlik in die daaglikse lewe. Dit is waar ons “kerk” moet wees.
Daar verteenwoordig ons die Here.
Paulus skryf ook hieroor in 1 Kor. 1:26: “Dink maar net, broers,
aan wat julle was toe julle geroep is. Volgens die opvatting van mense
was daar nie baie geleerdes of baie invloedrykes of baie mense van
aansien onder julle nie.”
‘n Groot deel van die lewe gebeur aan die vlak kant.
Normale daaglikse ritmes. Te veel mense kom nie by die vlak kant uit
met hulle godsdiens nie. Godsdiens word beperk tot kerktyd en stiltetyd.
Hulle is heeltemal te besig om diep te probeer wees en mis die geleenthede
waar God hulle alledaags wil gebruik!
Die uitdaging vandag is om die alledaagse weer terug te wen vir God.
Juis wanneer ons leer om God in die doodgewone en alledaagse “raak te leef”,
sal ons die lewe en die koninkryk soveel beter doen.
Wen elke gewone dag en gewone dingetjies weer terug vir die Here!
Ernest