“Wat vir die wêreld sonder aansien en betekenis is,
ja, wat niks is nie, het God uitgekies om wat iets is,
tot niet te maak.” – 1 Kor. 1:28.
Moenie die fout maak om te dink die alledaagse-sleur lewe
is gelyk aan vlak mense nie. Daar is nie vlak mense aan die
vlak kant nie, en diep mense aan die diep kant nie.
Ons is bevooroordeeld. Agterdogtig jeens die mense wat
anders is. Later verander dit in wantroue. Selfs haat.
Dan vergeet ons dat God alle mense dieselfde gemaak het,
na sy beeld.
In 1 Kor. 1 verwys Paulus na die stereotipes wat in sy tyd in
die stad van Korinthe gegeld het. Die Grieks-sprekendes het
neergesien op mense van ander tale. Jode het weer neergesien
op mense van ander godsdienste. Dan was daar die eervolles,
rykes, vernames en belangrikes. En, o ja, heel onder aan die lys
was die onbelangrikes en eerloses. Die wat anders was.
Ons doen dit vandag nog. Ons het die besigheidsmanne en -vroue,
politici, regsgeleerdes, dokters en so meer aan die een kant, en die
“onbelangrikes” soos vullis verwyderaars, skoonmakers, tuinmanne,
verpleegsters, drywers, en so meer aan die ander kant.
Met die koms van “Covid” word toe besluit wat is essensiële dienste
en essensiële mense...
Skielik staan verpleegsters, vullisverwyderaars, skoonmakers en so
meer voor in die ry...
In Korinthe is die Christene as die onbelangrikes gesien. Maar Paulus
weet dat God die onbelangrikes raak kyk. Klein word groot en eerste
in die ry word laaste in die ry...almal maak vir God saak.
God is status-blind, met eerbied gesê. God is mens-vriendelik. Hy wil
dat alle mense gered word. Ons moet diskriminasie en vooroordeel uit
die pad uit leef as verteenwoordigers van God. Dit help veel ons glo,
maar ons is diep bevooroordeeld ten opsigte van “ander” mense.
Dit is juis by hulle wat ons die Here moet raaksien en “raakleef”.
Ons is hulle en hulle is ons. In God se oë.
Ernest