Dit kan gebeur dat jy in die teenwoordigheid van
‘n belangrike persoon is, sonder dat jy dit eers weet.
Nog meer belangrik is dat jy deurgaans in die
teenwoordigheid van dié belangrikste Persoon in die
heelal leef, en dit vergeet.
Neem nou maar vir Jakob, die seun van Isak.
Hy moet vir sy broer Esau vlug nadat hy hom bedrieg het.
So gebeur dit dat hy in die oop veld moet slaap. Genesis 28
verse 10-22 vertel hiervan. Daardie nag het Jakob die droom
van sy lewe gedroom. In sy droom het hy ‘n leer gesien wat
tot in die hemel strek. Engele van God het op en af op hierdie
leer geklim. Skielik was die Here ook daar in die droom
teenwoordig. Jakob het wakker geskrik en daardie beroemde
woorde van hom gesê in vers 16:
“Die Here is op hierdie plek. Hy bly hier en ek het dit nie eens
geweet nie.” Jakob het nog gedink hy droom oor engele, toe
staan die lewende God op die toneel.
Daardie nag het iets groter gebeur as wat Jakob ooit sou kon dink.
Jakob se afspraak met sy eie bestemming in die lewe het onverwags
waar geword. Hy het ontdek dat Iemand saam met hom op reis is en
hy het dit nie besef nie. Eintlik moet ons dit so stel:
In sy droom het Jakob agtergekom dat God nog altyd saam met Hom
in sy lewe op pad is. Jakob het dit nie besef nie. Hy het deurentyd die
Here misgekyk en misgeleef! Jakob het nie ‘n idee gehad hoe naby aan
hom God deurentyd is nie. Toe het hy sy oë wawyd oopgedroom!
Die Here se magtige teenwoordigheid het hom oorweldig!
Nie net engele nie, nie net sogenaamde beskermengele nie, maar
God self is in sy lewe teenwoordig! Wat ‘n fout maak ons nie om dit te
vergeet nie! Groot fout! Dit kos baie mense hulle lewe.
Kom ons besef weer dat ons deurgaans in die teenwoordigheid van die
Here leef. Dit verander jou lewe radikaal. Die besef daarvan laat jou
eenvoudig anders lewe as die wêreld. Jy kan nie anders nie. Jy leef
saam met die Here. Jy beweeg saam met Hom. Jy het gesprekke met Hom.
Jy is nooit ooit weer alleen of eensaam nie. Jy staan nooit meer alleen teen
enige mag of krag nie. Jy leef die lewe, en dít, die léwe, in oorvloed!
Ernest