‘n Geheuebrug is blykbaar ‘n hulpmiddel wat jy gebruik
om te onthou.
Om homself te herinner aan sy spesiale droomnag in sy
lewe het Jakob ‘n klip opgerig op die plek waar hy geslaap
het en die plek Bet-El genoem – Genesis 28:18.
Elkeen wat by daardie plek verbygeloop het, sou op die een
of ander manier herinner word aan God se teenwoordigheid.
Hiervoor het Jakob gesorg. So het mense ook geleer om saam
met Jakob te onthou. Hulle het by hom geleer om nie by God
verby te leef nie.
Josua het ook in sy tyd op sekere plekke klippe opgestapel om
Israel te herinner aan God se teenwoordigheid op beslissende
oomblikke in hulle bestaan. Hierdie klipstapels het as baken
gedien van God se ingrype en sy nabyheid by hulle.
Herinneringstekens! Lees ook Eksodus 13:9 en Deut. 6:6-9
oor herinneringstekens.
Ons het dikwels ‘n geheuebrug nodig om te onthou. Ons leer
bv. sekere onthou tegnieke aan vir toetse en eksamens.
Afkortings, assosiasies, breinkaarte. Alles maniere om ons te
help om groot hoeveelhede inligting in ons koppe te stoor.
Ons almal se uitdaging is om te onthou. Daar is net te veel
dinge in die lewe wat ons aandag aftrek. Ons leef as’t ware in
‘n aandag-afleibare tyd. Skaars het ons begin konsentreer of
‘n SMS, of telefoonoproep verskuif ons aandag. En dit is net
asof dit elke keer wil gebeur as ons stiltetyd hou of bid.
Dan is daar gedurig goed wat onverwags in ons gedagtes
opspring omdat dit eintlik heeldag so met ons gaan.
Dit maak ons verleë en ons sukkel daarmee.
Nog erger is wanneer ons vergeet om te bid of aan God te dink.
Ons lewe word so vol dat ons gedagtes algaande wegskuif van
God af. Ons sukkel om te fokus en te onthou. Daarom sal dit ons
help om ‘n geheuebrug of twee te kry. Iets wat vir jou werk.
Dit kan ‘n sigbare teken op jou yskas wees om jou te herinner
aan jou verhouding met God en jou stiltetyd wat op hande is.
Dit kan ‘n herinnering op jou selfoon wees dat jy tyd met God
moet spandeer in terme van Bybel lees en gebed.
Dit kan ook bakens in jou lewe wees wat vir jou groot simboliese
betekenis het, soos ‘n bank in jou tuin waarop jy gereeld gaan
sit om te bid. Enige geheuebrug wat vir joú werk. Wat jou
doelbewus op God laat fokus. Dit vervang natuurlik gladnie jou
deurlopende lewe as sout, en lig en suurdeeg vir die wêreld nie.
Dit help jou egter om te onthou van dit tussen jou en God wat so
kosbaar is en wat jy nie wil vergeet of sonder wil leef nie...
Probeer dit. Onthou gedurig God se teenwoordigheid in jou lewe!
Ernest