Ons het dikwels herinneringstekens nodig om aan
God te dink. Aan die kruis gebeur iets besonders
wanneer ‘n misdadiger vir die Here vra om aan hóm
te dink. Lukas 23:42: “Verder sê hy: “Jesus, dink aan my
wanneer U in u koninkryk kom.”
Dit is al wat hy van Jesus vra. Dat Jesus aan hom sal dink.
Net dit. Hierdie man wat reg langs Jesus aan die kruis gehang
het, het regtig niks meer van Jesus gevra nie. Maar toe,
in een van die mees treffende hemelse-genade oomblikke
antwoord Jesus hom met die beste lewe-gewende woorde
wat ons kan hoor!
“Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” – vers 43.
Om te dink jy vra net ‘n gedagte van Jesus, en jy kry die hele
ewigheid daarmee saam.
Ons roeping is om ons hele lewe vir Jesus te lewe en te bou
aan sy koninkryk op aarde. Ons weet ook nie wanneer dit ons
sterfdatum is nie. En daarom mag ons nie uitstel nie. Maar die
wonderlike boodskap in hierdie gebeure is die grootheid van
Jesus se genade vir ons! Dit is nooit te laat nie!
Daarom is daar ook nooit tyd te mors wanneer jy genade by
Christus pleit nie. Daar is ook nooit doodse stilte as antwoord
wanneer jy genade by Jesus pleit nie. Selfs nie eers wanneer
Jesus op die laaste van sy eie asem aan die kruis is nie!
Jesus antwoord hierdie misdadiger dadelik. Jesus antwoord met
genadespoed! Daar is nie beperkings op God se genade nie.
Die Here kom op die heel naaste aan jou wanneer jy soos hierdie
misdadiger op die verste van Hom af voel.
Vra die Here om jou te help, om nie langer te vergeet van sy
goedheid en nabyheid by jou nie. As Hy die misdadiger-sondaar aan
die kruis raakgesien het en raakgehoor het, wat net om ‘n gedagte
gebedel het, wat sal hy nie alles vir ons doen nie.
Hy onthou ons...in genade!
Aan die kruis het die lig van God se goedheid oor elkeen kom skyn
wat hulle hoop op sy geliefde Kind se offer aan die kruis plaas.
Daarom dat die kruis se verhaal in een asem vertel van lyding,
maar ook van God se nuwe begin met elkeen wat soos die misdadiger
by Hom pleit vir genade. God het elkeen van ons onthou by Golgota.
Daar vind God se vryspraak plaas vir elkeen wat Christus se offer vasgryp.
God onthou jou. Hy vergeet jou nie. Hy dink deurlopend aan jou!
Ernest