Ons hoor dat mense in die huidige wêreld krisis vra:
“Waar is God nou?”
God is nie afwesig as ons tot die gevolgtrekking kom dat
Hy weg is nie! Hy is nie doof as ons dink Hy hoor nie meer
ons pleit gebede nie. God is nie blind as ons dink Hy sien ons
nie in ons omstandighede nie. Ons is nie op ons eie net omdat
ons dink God het van ons vergeet nie. Ons gevoelens is nooit
die maatband waarmee ons meet hoe ver God van ons af is nie.
Ons emosies dien nie as die norm om God se afstand van ons af
te meet nie. God is nie naby net as ons naby aan Hom voel nie.
Hy is nie ver of afwesig as dit ons belewenis is nie.
Goddank dat ons eerder moet en kan glo wat God self hieroor sê
regdeur die Bybel. God is waar Hy is. Onder alle omstandighede
en te alle tye is God alomteenwoordig, en veral by ons!
Dit is baie belangrik vir ons geloofsgroei om te onthou Wie God is
en waar Hy is. Al is God so groot dat ons dit nie kan bedink nie,
is Hy ook juis so groot dat Hy ons in ons kleinheid en nood raaksien!
Nooit laat val God ons uit sy hand nie. Nooit is God ver, blind, doof
of moeg nie. Ons moet dit in alle tye en in alle situasies in ons lewe
onthou. Gaan lees die hele Jesaja 40 hieroor, en veral verse 1-26!
Daarom kan ons Hom ter enige tyd in die Naam van Jesus aanroep.
Niemand adviseer God en skryf aan Hom voor wat Hy moet doen nie.
Die Gees van die Here werk soos Hy wil. Onthou vandag juis hoe groot
God is as jou probleme jou wil oorweldig. Sien sy grootheid in geloof
raak en kniel klein voor Hom. Dan is ons in die regte posisie om te besef
hoe naby God is! Nie net by ons nie, maar deur die Heilige Gees in ons!
Dan gaan sy grootheid ons so oorweldig, dat óns in die moeilikste
omstandighede, Hóm nooit weer sal vergeet of verlaat nie!
Dan sal ons in verwondering opkyk na God toe. Altyd. Oral.
Dan sal ons nie vra “waar is God” nie!
Ernest