God is ontsteld dat mense dikwels sulke dwase opmerkings
maak dat Hy hulle omstandighede nie raaksien nie, en nie
regspreek om hulle onthalwe nie. Jesaja 40:27:
“Waarom sê jy dan...waarom kla jy...”Die Here sien nie raak
wat van my word nie, my reg gaan by my God verby.”
Daarom antwoord die Here met retoriese vrae in vers 28:
“Weet jy dan nie, het jy nog nie gehoor nie? Die Here is die
ewige God, Skepper van die hele aarde. Hy word nie moeg nie,
Hy raak nie afgemat nie en sy insig is ondeurgrondelik.”
Hoekom dink mense dat God moeg raak vir hulle en nie meer
omgee nie? Waar kry hulle ooit die idee dat Hy afwesig is?
Hoe onthou hulle dan nou in moeilike omstandighede net wat
húlle wil en húlle pas, oor God? Hoekom maak hulle soos
ongelowiges wat God van sulke dinge beskuldig terwyl hulle
nie in Hom glo of Hom reg ken nie? Hoekom “meet” hulle God
met verkeerde meetinstrumente? Asof ons God in elk geval kán
meet as gevolg van ons omstandighede?
Om seker te maak dat mense nie aanhou om misverstande oor
Hom te vertroetel nie, verduidelik Hy vir hulle waar hulle Hom
veral sal raaksien. Vers 29: “Hy gee die vermoeides krag,
Hy versterk die wat nie meer kan nie.” God is die een wat krag gee.
So is God. God sien nie net raak nie. Hy gee nuwe krag om te volhard
ten spyte van die slegste omstandighede. Moenie jou blindstaar teen
jou swaarkry en dan foutiewe afleidings oor God daardeur maak nie.
Jóú omstandighede bepaal nie Wie God is en wat Hy doen nie.
Doen eerder wat Jesaja 40:31 voorskryf: “...maar die wat op die Here
vertrou kry nuwe krag...” Wag en vertrou op die Here.
Laat jou frustrasies, en ongeduld, en afleidings oor Wie God is, eerder
plek maak vir die doel wat God in jou omstandighede wil bereik,
ter wille van Hom, ander mense, én jouself. Dit sal jou vrees en
frustrasies laat plek maak vir die regte geestelike krag wat van God
af kom. Jy sal ontdek dit gaan nie net om jouself nie.
Dan sal jy nie moeg en afgemat en sonder hoop wees nie.
Uiteindelik moet ons besef dat God se hoogste prioriteit in ons
omstandighede nie ons eie gerief is nie, maar die bou van ons
karakter, ter wille van getuienis oor Hom en ter wille van Hom.
God wil ons in ons omstandighede laat groei om meer en meer
soos Jesus op te tree ten spyte van ons omstandighede.
Mag die Here ons hierin seën om aktief op Hom te wag.
Ernest