Een van die mees treffende en mees bekende teksverse
in die Bybel oor God wat bý ons is, is verseker Romeine 8:39:
“Geen hoogte of diepte of enige iets anders in die skepping
kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is
in Christus Jesus ons Here.”
Eintlik moet ons dit nie losstaande lees van die vorige verse 31-38
nie. Dit vorm ‘n treffende eenheid oor God wat onafskeidbaar naby
aan ons is! Dit is ‘n klassieke teks oor God se wese en sy reddings-
handelinge met ons. Romeine 8, saam met die aardskuddende teks
van Jesaja 40 gee ons ‘n kyk in die hart van God. Die hele Romeine 8
vertel van begin tot einde van die drie-enige God se reddingsdade
en die gevolge hiervan vir sy kinders!
Veral die werk van die Heilige Gees vorm ook hierin ‘n sentrale rol.
Dit is Hy wat ons tot kinders van God maak. Ons wat deur die Gees
gelei word is vry van oordeel. Dit is die Gees wat in ons hart uitroep:
“Abba, Vader!” Omdat ons aan Jesus Christus vashou, bevry die Gees
ons van enige slawerny en vrees! Tussendeur in ons lewe bid die Gees
vir ons met versugtinge wat nie in mensetaal uitgedruk kan word nie.
As gevolg van die Gees se gebede wat Hy in ons vir ons bid, laat God
sy wil en sy heerlikheid ten goede meewerk in die lewe van ons almal
wat deur Hom geroep is, gered is, en afgesonder is vir Hom!
Daarom breek Paulus in ‘n loflied uit met Romeine 8:31-39 as hy jubel
oor God se onafskeidbare nabyheid by ons, en sy goedheid vir ons!
Dit is nie maar net dat God naby aan ons is nie. Meer nog.
Hy is onafskeidbaar naby! Die slegste omstandighede waarin ons ooit
kan beland, kan ons hoegenaamd nie van die liefde van God skei nie.
Letterlik niks in die heelal kan ons van God skei nie! Niks!
Ons moet deurlopend onthou dat ons aan God behoort,
dat ons sy kinders is, en dat niks ons van Hom kan skei nie.
Moenie ooit weer God daarvan verdink, of Hom beskuldig,
dat Hy jou vergeet, of afwesig is in jou lewe nie. Moenie!
Jou belewenis van jou omstandighede sê nie Wie God is,
waar God is, of hoe God is nie.
Ernest