In geestelike oorlogvoering gebeur dit dat daar dikwels
meer op die vyand gefokus word as op God. Natuurlik
moet jy jou vyand “ken”. Jy moet weet wat om van die
Bose te verwag. Hy loop rond soos ‘n brullende leeu wat
soek om te verskeur.
Maar kom ons onthou dat ons eerder moet fokus op God!
Ons moet eerder “kenners” van God wees, as om te probeer
om kenners van sonde te wees. Paulus sê hieroor ‘n baie
belangrike waarheid in Romeine 16:19:
“Almal het gehoor van julle gehoorsaamheid aan die evangelie.
Ek is baie bly oor julle, en sou graag wil sien dat julle alles weet
van die goeie en niks wil weet van die slegte nie.”
Eeue lank het die kerk Paulus se woorde omgeruil.
Godsdienstiges weet daarom alles wat verkeerd is met die wêreld,
die kerk, of met ons as Christene, en min van wat reg is in God se
oë en wat sý wil is. Ons is veronderstel om al ons energie daarin
te sit om God te ken, eerder as om eksperts te wees in wat sonde
is en wat nie sonde is nie. Ons roeping is om God in ons lewe en in
die lewe van ander raak te sien. Ons fokus te graag op die verkeerde
dinge in ander se lewens. Wanneer ons op God fokus, deur die Heilige
Gees se werk in ons, dan sorteer die Heilige Gees die verkeerde dinge
in ons lewe uit.
Wanneer ons deur die Gees lewe, sal die Gees ons gedrag bepaal
– Gal.5:25. Dan sal ons die vrug van die Gees uitleef. En dan val die
sonde as’t ware van jou af soos herfsblare van ‘n boom afval.
Die Heilige Gees rig ons oog op God. Natuurlik maak die Gees ons nie
blind vir ons sonde nie. Hy lei ons egter aktief om dit te laat staan
omdat Hy ons op God fokus. Die Gees bring ons tot aanhoudende
verwondering voor Christus wat om óns ontwil aan die kruis vir ons
sonde betaal het. Die Gees fokus ons op Christus. Lees dit weer.
Die Gees fokus ons op Christus. Die Gees maak jou nie ‘n kenner van
wat sonde is en wat nie sonde is nie.
Hierdie verwondering in Christus is die nuwe vuur in ons lewe wat
ons dring om vir God te leef! Dit is die krag wat ons lei tot nog groter
en groter liefde vir die Here, en tot meer en meer gehoorsaamheid aan
Hom. Jy los nie eers die sonde en word dan gehoorsaam aan die Here
nie. Jy word eers deur die Heilige Gees gehoorsaam aan die Here en
dan los die sonde jou. Daarom is die nuwe manier van lewe ‘n dankie-sê
lewe wat vol dankbaarheid teenoor die Here gehoorsaam aan God leef.
Die Gees lei ons tot nuwe gehoorsaamheid wat tot gevolg het dat ons
die rug gedraai het op sonde. Die Gees wil ons aandag alleen fokus op
God ons Vader en Jesus Christus ons Here!
Ernest