Geestelike konsentrasie beteken om te fokus op God
wat by ons is.
Konsentrasie word deur een navorser omskryf as
“the ability to direct one’s thinking in whatever direction
one would intend.” Ons almal sukkel soms met konsentrasie.
Navorsing het bevind daar is veral drie dinge wat ons
konsentrasievermoë negatief beïnvloed: Verveeldheid,
dagdromery, en angstigheid. Hierdie dinge is groot
konsentrasie-diewe. Dit laat ons gedagtes in baie rigtings
rondhardloop. Ons benodig byvoorbeeld konsentrasievermoë
as ons wil studeer. Of wanneer ons nuwe vaardighede wil aanleer.
Ook wat ons verhouding met God betref kort ons groot konsentrasie
vermoë. Geestelike konsentrasie. Dit gaan nie daaroor dat ons
verhouding met God ‘n komplekse saak is nie. Dit gaan daaroor dat
ons lewenslank sal sukkel om God te hoor, en reg te hoor, as ons nie
op Hom fokus en konsentreer wanneer Hy in sy Woord of in gebed,
of waar ookal met ons praat nie.
Dit geld eintlik enige kosbare en naby-verhouding, en veral ons
verhouding met God.
Dit is veral vrees wat ons geestelike konsentrasie steel.
Vrees krimp ons geloof teen die spoed van lig. Vra maar vir Petrus
wat op die water na Jesus toe loop in Matteus 14. Die oomblik toe
hy sy oog van Jesus afneem en op die storm fokus, toe neem vrees oor.
En hy sink.
Ook die Israeliete in die woestyn. Toe hulle die aanstormende weermag
van die Egiptenare sien, was hulle geloof skielik baie laag.
Wat moet ons doen wanneer ons besef ons het geestelike konsentrasie
verloor? Gebed is dan lewensnoodsaaklik. Dan moet ons bid dat die Here
ons op Hom laat fokus en ons kleingeloof te hulp snel.
Geestelike konsentrasie beteken om die Heilige Gees toe te laat om ons
aandag van ons probleme of omstandighede af weg te skuif, en op God
te fokus.
Ons moet herfokus op God wat ín die omstandighede teenwoordig is!
Net dit! Ons gaan nie noodwendig eensklaps die geloof hê wat berge
versit nie. Maar, baie belangrik:
Die antwoord begin altyd by ‘n nuwe fokus op God,
en die feit dat Hy by ons is!
Ernest