Hoogmoed kom dikwels van een of ander gesagsposisie
of van rykdom en geld. So sien ons in die wêreld hoe
sogenaamde leiers hoogmoedig is en vol arrogansie.
Maar ook rykdom en geld bring arrogansie of hoogmoed.
Dit hoef nie so te wees nie, en is ook nie in alle gevalle so nie.
Maar dit gebeur so maklik.
‘n Ou Griekse wysgeer het op ‘n keer gesê as die gode jou wil
straf, dan maak hulle jou ryk. Geld en mag het dikwels ‘n slegte
uitwerking op mense. Dit maak hulle verwaand en selfgesentreerd.
Mag en rykdom verander maklik en gou in wapens waarmee ander
mense se lojaliteit en goedkeuring gekoop word. Hulle plaas hulself
op selfgemaakte troontjies sodat almal rondom hulle dienaars moet
word.
Dit is treffend hoe die Bybel beklemtoon dat God hoogmoed haat.
Daarom sê Hy diegene wat klein en gering voor Hom is, sal verhoog
word. Mense wat gedurig op ander mense trap en hulle misbruik
moet nie op die guns van God staatmaak nie.
Hoe maklik trap ons nie in die slagyster van hoogmoed en arrogansie
nie. Ons dink maklik ons is beter as ander mense. Watter meetsnoer
ons ookal hiervoor gebruik, dit bly arrogansie en hoogmoed. Om te
dink jy is beter as iemand anders. God meet nooit ons waarde aan die
dinge wat vir die wêreld belangrik is nie.
God word aangeroer deur nederigheid en sagmoedigheid.
Dit word deur die Heilige Gees in ons gewerk. Ons kan nie eers self
daarop roem dat ons nederig of sagmoedig is nie.
William Law het hieroor gesê dat die suiwerste vorm van hoogmoed
is om te dink jy is die nederigheid self. Dit verskaf die Here eindelose
vreugde wanneer sy kinders kinderlik op Hom alleen vertrou as die
gewer van alle goeie dinge. Hy is ook die gewer van mag en rykdom
wat eerlik en opreg bekom word. God is vol vreugde wanneer ons
gedurig na Hom opkyk vir elke stukkie brood en elke handvol genade.
God sorg graag vir sy kinders. Hy gee aan ons meer as wat ons kan bid
of dink. Hy stort sy seën op elkeen uit wat diep afhanklik op Hom wag.
CS Lewis sê oor hoogmoed: “Solank hoogmoed in ‘n mens se hart woon,
kan jy God nie sien nie. Verwaande mense sien immers neer op alles en
almal. En as ‘n mens altyd afkyk, kan jy natuurlik nie sien Wié bo jou is nie.”
Sal elkeen van ons nie onsself voor die Here verootmoedig nie?
Ons dink so dikwels ons is beter as ander mense...
Ernest