Aanhoudend, oor en oor, sê die Here in sy Woord
ons moet nie bang wees nie! Vrees lê ons lam.
Dit maak ons magteloos. Dit laat ons ook kragteloos.
Vrees maak dat ons dwergies vir reuse aansien.
En molshope vir berge aansien. Vrees steel ons geloof.
Dit krimp ons vertroue in die Here drasties.
Een of ander navorsing het blykbaar bevind dat die grootste
vrese wat die gemiddelde persoon gevange hou die vrees is
vir die onbekende, en die vrees vir openbare mislukking,
met ander woorde mislukking in die oë van ander mense...
Derduisende gelowiges leef is vrees! Hulle sien heeltyd spoke
van mislukking, of swaarkry, wat moontlik vorentoe op hulle
wag! Dit is nog nie eers ‘n realiteit nie! Daar is mense wat
gedurig verwag hulle gaan misdaad slagoffers wees. Of hulle
gaan in armoede verval. Of hulle gaan hul werk verloor.
Of hulle gaan ernstig siek word. Veral in die tyd waarin ons
nou leef... Of dit gaan moontlik met geliefdes van hulle gebeur.
Dit hoort nie so nie. Dat ons in vrees moet lewe nie.
Dit is verseker nie God se wil nie. Ons moet dit weet. Vrees is
‘n mosie van wantroue in God se sorg en omgee vir ons.
Vrees is die donkerkamer waar negatiwiteit ontwikkel word!
Hoe moet ons maak met vrees? Die antwoord is nie vreesloosheid
nie, want dit kan min of meer aan dwaasheid grens. Om te maak of
ons nooit bang is vir iets nie, is nie die volle waarheid nie.
Wat is dan die oplossing?
Ons moet leef soos mense wat al ons vrese in die oë kyk en wat dan,
ten spyte daarvan, steeds op God vertrou en totaal afhanklik van
Hom leef. So troef ons vrees, omdat ons by God skuil wat ons lewe
vir tyd en ewigheid in sy hand vashou. Niks kan ons uit sy hand ruk nie.
Niks kan ons van sy liefde vir ons skei nie.
Kyk wat vra die Here van Josua wanneer Hy hom roep om Moses se
skoene vol te staan: “Ek self gee jou die opdrag. Wees sterk, wees
vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek,
die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan” – Josua 1:9.
Let op die woorde: “...want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy
gaan.” Josua moet weet dat die Here sy hand vashou en hy moet leer
om op die Here alleen te vertrou en gehoorsaam aan sy wil te wees.
Dan sal hy sterk en vasberade wees. Nie bang wees nie.
Bertrand Russel het gesê dat vrees jou ander dinge laat glo as wat God
wil hê jy moet glo, en daarom is vrees die hoofoorsaak van bygeloof.
Daarom is die oorwinning van vrees die begin van wysheid.
Kom ons leef nou met hierdie treffende woorde van Jesaja 40:9-11:
“Moenie bang wees nie...Hy is die Magtige...Hy regeer...Soos ‘n herder
versorg Hy sy kudde...”
Moed is nie die afwesigheid van vrees nie, maar om jou in geloof te
verset teen vrees.
Dit is nét vertroue in God alleen, wat ons kan verlos van vrees.
Ernest