Robert Olsen skryf dat die meeste mense lewenslank verslaaf
is aan die nimmereindigende begeerte na nóg meer. In Engels
noem hulle dit “consumerism”. Dit is deel van ons menslike
natuur om meer en meer te wil hê. Volgens aggressiewe
bemarking, wat heeltyd in ons kele afgedwing word op openbare
media, kan ons eenvoudig nie sonder dit af dat leef nie. Niemand
het ooit genoeg nie.

Ons moet, in Bybelse sin, eintlik terugkeer na eenvoud. Ons moet
eenvoud vier, as kinders van die Here. Ons moet minimaliseer.
Ons moet eenvoudig leef met die uitgangspunt dat genoeg nou
genoeg is. Elkeen sal moet besluit waarmee jy vrymoedigheid het,
dat dit nou genoeg is, in die oë van die Here. Dit is onmoontlik om
‘n swart-wit lyn te trek. Dit gaan oor ‘n lewens-ingesteldheid.
Daar sal altyd nog iets wees wat jy dink jy moet hê. Vra jouself
kritiese vrae hieroor en, baie belangrik, kry dan vrymoedigheid
voor die Here oor jou besluit.

Die probleem in ons tyd is dat “retail therapy” vir baie mense
die vernaamste manier is om aan hulle behoefte -gedrewenheid
uiting te gee. Koop, koop, koop. Dit is dikwels eenvoudig totaal
selfgerig en selfbevredigend.

Nou: Een van die groot probleme wat hiermee saamhang,
en wat regtig ‘n tragiese verskynsel is, is dat ook godsdiens in
“consumerism” vasgeval het. Vir baie mense is godsdiens slegs
hemelse hulp wat jy nodig het en uitprobeer as jy ‘n krisis het,
of ‘n vinnige oplossing soek in jou deurmekaar lewe.
Die Here word nou hierdie hemelse hulp wat moet regstaan.
Dit word ‘n verbruikers godsdiens. Dan is mense ontevrede met
die kerk want hulle gaan net ter wille van hulleself “kerk toe”,
in plaas daarvan om vir die Here kerk te wees in hierdie wêreld.
Dan hoor jy dat die kerk of godsdiens “nie vir mý werk nie”,
want dit gaan natuurlik net om jou. So bly mense soek na ‘n ander
kerk of ander godsdienste wat “vir hulle werk”. Dikwels is dit dan
eintlik die Here wat “nie vir hulle werk” nie.

Die lewende God is nie in die verbruikersbedryf nie. Hy is nie een
of ander hemelse produk wat vir jou moet werk nie. Hy is nie daar
om naas jou persoonlike afrigter, sielkundige, dokter, terapeut en
wie nog almal, ook hulp te moet verleen en jou lewe vir jou moet
uitsorteer nie.

God is die Here. Hy is die allerheilige God. Jy dien Hóm eksklusief
en op sy terme alleen. Jy buig voor sy wil en jy volg Hom. Jy gebruik
Hom nooit. Nie eers wanneer jy bid om sy ingrype in jou of ander
se lewe nie. Selfs in sulke omstandighede staan ons met eerbied en
totaal afhanklik van Hom om te wag op sy wil, en sy tyd, en wat Hy
wil doen, ter wille van sy eer en sy koninkryk. Dit is vir jou en vir
almal wat betrokke is die beste. Want God laat alles ten goede vir
ons meewerk wie Hy liefhet. Al verskil dit hoé van ons eie wil en
begeerte. Ons is totaal op God gerig en staan naas ons medemens
agter in die ry.

Egte geloof maak jou nederig, met die nederigheid wat net die
Heilige Gees jou gee, as vrug van die Gees. Dit laat jou jou plek voor
God en jou medemens ken. Elkeen wat deur God geskep is en wie
Hy liefhet. Dit maak dat jy niks anders van God nodig het as sy heilige
teenwoordigheid in jou lewe nie. Dit is oorgenoeg.
Dit is alles wat jy nodig het.

Ernest