Kanker kan dodelik wees. Maar ons weet ook kanker is nie
meer ‘n doodsvonnis nie. Goddank. Miljoene het al kanker oorwin.
Die Corona-virus kan ook dodelik wees. Maar baie het dit ook al
oorwin. Goddank. Vir baie mense wat al hierdie twee woorde gehoor
het, kanker en Corona, was dit ‘n kreet om te veg...en te oorwin.
Maar daar is ‘n nog gevaarliker siekte. Die gevaarlikste pandemie in
die wêreld. Die pandemie van selfsug. Of ék-sug. Dit is die dodelikste
en mees vernietigende super-virus wat nog deurgaans die wêreld
deurtrek en die mensdom bedreig! Dit is die mensdom se nimmer-
eindigende selfliefde ten koste van God en ons medemens.
Dit het verskillende gesigte in hierdie wêreld en ons kry elke dag
daarmee te doen. Dit leef ook dikwels agter maskers wat mense dra.
Dit sluit enige iets in, van self-preservering tot selfhandhawing, of
selfverheerliking tot self-vergoddeliking. Geen wêreldse medikasie
kan dit stuit nie. Nog minder kan politici, militariste, humaniste,
celebrities, of kunstenaars dit keer nie. Almal is slagoffers daarvan.
Nie eers godsdiens staan kans teen selfsug en egosentrisme nie.
Selfs godsdiens is dikwels besmet van hierdie virus. Veral waar
godsdiens groot besighede word met min genesende krag of impak
op die omgewing. Ook godsdiens moet verander van self-diens na
die aanbidding van God alleen. Ons moet eenvoudig net weerkaatsers
wees van Jesus Christus se lig! Ons gebede en lewe moet lof-offers aan
God wees. Alles wat ons vir of aan mense doen moet die voortsetting
daarvan wees. Dit gaan nie oor wat ons alles van God wil hê nie.
Wanneer godsdiens self-diens is, is dit selfsug. Selfs die vroomste
handelinge, soos om aalmoese vir die armes te gee, kan deur mense
se ego’s aangedryf word. Om erkenning te kry vir die wonderlike
dinge wat hulle doen...
In Matteus 6 pluk Jesus die masker van godsdienstige selfsug af.
Hy plaas eers klem op drie basiese pilare van godsdiens naamlik, vas,
gebed en die versorging van armes. Dan wys Jesus hoé diep dit besmet
is met selfsug! “As jy iets vir die armes gee, moet jou linkerhand nie
weet wat jou regterhand doen nie.” – Matteus 6:3.
Wat is die oplossing? Net God se Gees kan hierdie mag breek. Jesus
gee die perfekte medisyne hoe dit prakties in jou lewe moet gebeur:
Jy moet uit jou eie pad staan! Jy moet doelbewus in die Naam van die
Here as’t ware jou ék-sugtigheid onder die beheer van die Heilige Gees
plaas en kies om dit wat jy vir God doen, vir Hom alleen te doen!
Jy moet doelbewus deur die werk van die Heilige Gees jou eie-ek kruisig
en jou kruis vir Jesus alleen opneem. Jy moet die Heilige Gees toelaat
om jou ego te kruisig. Elke dag. Elke uur. By elke geleentheid.
In die teenwoordigheid van elke mens.
Willem Nichol het gesê die reis weg van jou eie ego is lank en steil.
Net die Heilige Gees kan jou daarmee help! Die Here Jesus is ons voorbeeld.
Ons moet meer en meer soos Hy leef. Sy hele lewe was onselfsugtige dade,
gebed en liefde.
Kom ons ondersoek ons krities onder leiding van die Heilige
Gees oor selfsug in ons lewe. Net die Heilige Gees kan ons dit laat oorwin.
Sokrates het gesê: “’n Lewe sonder selfondersoek is nie werd om gelewe te
word nie.” In hemels naam: Laat die Gees ons vervul...
en ons bevry van selfsug!
Ernest