Ons het by God geleer om storie-vertellers te wees.
Hy deel die skeppingsverhaal en ander verhale van redding
reg deur die Skrif met ons. Die Bybel is God se amptelike
“Storieboek” wat God se verhaal met die mens vertel.
Die Bybel is God se openbaring aan ons, sy bekendstelling
van Homself. Die toppunt van hierdie verhaal is in die kruis
en opstanding van Jesus. Daar sien ons God se liefde en
ontferming oor ons in sy diepte.

Nou wil God ook hê dat ons storie-vertellers sal wees van
Wie Hy is. Ons, as navolgers van Christus, het nodig om ons
lewe te leef aan die hand van Jesus se lewe. Navolgers van
Jesus sal die “ek-self” altyd wegdwing uit die sentrum van
ons lewe, en Hom beklemtoon as ons hele lewe!
Ons lewe moet die kroniek van ons lewe saam met Hom uitbeeld.
Ons mag nie die toneel in ons eie lewe oorheers nie. Ons hele lewe
gaan oor Jesus. Ons laat sy lig deur ons skyn. So sal ons mense na
Jesus toe trek. Hy sorg self vir die magnetiese krag daarvan.

Johannes 15 sê daar is net een manier hoe dit gebeur;
naamlik dat ons lewensverhaal die verhaal van Jesus met ons is.
Ons moet in Hom bly! Dit is die geheim! Ons moet deurgaans in die
Here geanker wees. Ons is bruikbaar vir die Here as ons ingeplant is
in die ware Wingerdstok. Dan hoef ons nie onsself te bekommer oor
resultate in ons lewensverhaal nie. Ook nie oor die impak wat ons vir
die Here moet maak nie. Hy sorg self daarvoor deur ons.
Johannes 15:16: “Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle
uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat
sal hou. So sal die Vader aan julle gee wat julle ook al in my Naam vra.”

Ons lewensverhaal gaan nie daaroor dat ons iemand anders moet wees nie.
Tog moet ons die Here toelaat om ons te snoei om ons beste self te wees,
soos God bedoel het ons moet wees. Die storie van ons lewe moet daaroor
gaan dat ons soos lote in die Here bly wat die ware Wingerdstok is,
en dat sy hemelse vryheid en genade deur ons lewe vloei na die wêreld
rondom ons.

Ernest