Ons woorde is baie belangrik. Ons woorde móét ook
belangrike woorde wees. God werk deur ons woorde!

Wat kan ons doen om God se genade rondom ons te laat
grondvat? Wel, bo en behalwe volhardende gebed, is die
oplossing ook in die woorde wat ons praat. Ons woorde is
‘n belangrike sleutel in die vloei van God se genade in die
omgewing waar ons leef en met wie ons te doen kry.
Ons woorde is baie belangriker as wat ons dink.
2 Timoteus 4:2 sê: “Verkondig die woord; hou daarmee vol,
tydig en ontydig; weerlê, bestraf, bemoedig deur met alle
geduld onderrig te gee.” Wanneer ons na hierdie teks kyk
besef ons; Ons moet ons woorde in die Bybel doop.
Dan sal die Woord van God oor ons lippe vloei. Ons moet
daagliks ons woorde toevertrou aan die Heilige Gees.

Ons moet woede met sagte reaksie beantwoord.
Ons moet nors gesigte met liefdevolle taal begroet.
Komplimente moet diep uit ons hart kom in opregtheid.
Ons moet mense sonder hoop moed inpraat, want die Here
wil genesing deur ons woorde bring. Ons opbouende woorde
is deel van God se genesing vir mense.

Ons moet ook nie bang wees om mense reg te help nie.
Met die liefde van die Here moet ons mense daarop wys as
hulle op ‘n ramp afstuur. Bogenoemde teks bedoel ook dat
ons streng moet wees, ter wille van die wil van die Here, as dit
nodig is.

Natuurlik is dit nie altyd maklik om met eerlike taal “stroomop”
te wees nie. Mense sal nie altyd met dankbaarheid luister na jou
opregte woorde nie. Al bedoel jy hóé goed daarmee. Ons woorde
word nie altyd met entoesiasme ontvang nie, al is dit hoé reg en
opreg. Ons moet egter onthou:
Al bewe ons knieë partykeer omdat ons weet ons moet praat,
die Rots waarop ons woorde staan bewe nooit. Daarom moet ons
onder leiding van die Heilige Gees praat. Dan praat ons met wysheid,
eerlikheid en deursigtigheid. Die Here sal sorg vir die resultate.
Hy verander mense op sy tyd en op sy manier. Ons is slegs sy getuies
wat sy woorde moet bring. Pratende en dienende instrumente van hoop.
Praat. Laat die Heilige Gees deur jou praat. Jou woorde is vir God belangrik.

Ernest