Kolossense 3:16: “Die boodskap van Christus moet
in sy volle rykdom in julle bly.” Dit beteken dat ons
die Woord getrou moet lees, absorbeer, bestudeer,
gehoorsaam en verteer. Wanneer die Woord deel
word van my denke, my gesprekke, en my lof aan God,
raak ek meer en meer gevul en vervul met die Woord
van God.
Dan kom ek op ‘n dag agter dat om Woord-vervul te wees,
dieselfde eindproduk bring as om Gees-vervuld te wees.
Ons kan nie bid om die vervulling deur die Heilige Gees
asof dit los van die Woord van God plaasvind nie.
Die Gees van God werk deur die Woord van God.
Die Woord van God is mos die asem van die Gees.
Die asem van die Gees self vul en verander my terwyl ek
die Woord van God lees, bestudeer, gehoorsaam en uitleef.
Woord-vervulling is ook Gees-vervulling.
Wanneer my hart leeg is van die Woord van God,
is vervulling met die Heilige Gees ‘n baie skraal moontlikheid.
Die praktyk bewys dit. In ‘n hart waarin die Woord van God
nié leef nie, leef daar ander duister dinge soos twyfel, woede,
selfbelang, verset...
Die Gees deel ‘n hart met die Woord van God!
Die Heilige Gees praat met ons, uit ons en deur ons, net soos
die Woord van God. Wanneer ons dus die Gees van God begeer,
en vervulling met die Heilige Gees begeer, moet ons ook ‘n
begeerte hê na die Woord van God. Ons moet dit lees en leef
onder leiding van die Gees. Die Gees werk deur die Woord.
Die Gees gee ons ‘n honger en dors na die Woord van God.
Die Gees lei ons deur die Woord. Die Heilige Gees werk nooit los
van die Woord van God nie. Daarom moet die boodskap van
Christus in sy volle rykdom in ons bly.
Ernest