“Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en
daarvolgens handel, kan vergelyk word met ‘n
verstandige man wat sy huis op rots gebou het.
Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom,
winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk,
en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament
was op rots.” – Matteus 7:24-25.
Ons kry óf rots-mense, óf kaartehuis-mense.
Mense wat op rots bou, of mense wat op sand bou.
Jesus maak in bogenoemde woorde geen voorsiening
vir nog ‘n groep mense nie. Ons bou ons verhouding met
die Here op rots, of op sand. Ons gehoorsaamheid aan
Hom staan op rots, of op sand. Ons ewige bestemming is
op rots, of op sand.
Een ding staan vas: elkeen van ons gaan by geleentheid
blootgestel word aan woeste storms van die lewe.
Stortreën, rukwinde, vloedwaters. Alles beelde om die
lewe op aarde voor te stel. ‘n Lewe vol versoekings,
beproewings, storms, lyding, skokke...alles die realiteit
van menslike gebrokenheid en die gebroke wêreld waarin
ons leef.
Na elke storm is daar een van twee moontlikhede wat
gebeur het: Huise en lewens wat bly staan. Of kaartehuise
en lewens wat inmekaar getuimel het.
Ons het die keuse om op die fondament van rots te bou!
Ons het die keuse om op die Rots te leef. Die Rots is Jesus
Christus self. Die boumateriaal is die Woord van God en
gebed. Die bouproses is gehoorsaamheid aan God en
volharding tot die einde toe. Die gesindheid waarmee ons
op die Rots bou is dankbaarheid, liefde, en oorgawe aan
Jesus Christus.
Waarop, met wat, en hoe, bou jy?
Ernest