“Die wat gesond is, het nie ‘n dokter nodig nie,
maar dié wat siek is. Gaan leer wat dit beteken:
“Ek verwag barmhartigheid en nie offers nie.”
Ek het nie gekom om mense te roep wat op die
regte pad is nie, maar sondaars.”

Die Fariseërs het gevra: “Waarom eet julle
leermeester saam met tollenaars en sondaars?”
Vry vertaal: “Liewe land, wat het Hy met dáárdie
soort mense te doen!?”

Toe antwoord Jesus op ‘n wyse wat gebroke en
geknakte mense vandag nog trane van dankbaarheid
in hulle oë gee. Ons moet dit weer lees: “Die wat gesond
is het nie ‘n dokter nodig nie, maar die wat siek is. Ek het
nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie,
maar sondaars.”

Dit is Jesus se genade gesindheid en dit demonstreer God
se liefde vir alle mense! Al voel jy of jy al duisende kere op
die pad gefaal het. Die Here roep jou wéér. Hy het self gesê:
“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal
julle rus gee.” – Matteus 11:28.
Jesus se genade is vir elkeen en Hy nooi ons elkeen uit wat
só voel omdat ons onsself, Hom, en ons naaste gefaal het.

Maar Jesus praat ook hier met mense met hoogmoedige en
veroordelende harte. Hy praat ook direk met die mense wat
nie van “daardie soort mense” hou nie. Wat nie hou van die
tollenaars en sondaars nie. Wat hulself hoër en beter ag as
ander mense. Let op; Hy stuur hulle eers weg om te gaan
selfondersoek doen: “Gaan leer wat dit beteken:
“Ek verwag barmhartigheid en nie offers nie.”

Jesus kyk na mense se harte. Jesus kyk ook nou na my hart
wanneer ek hier lees en help my om ook self na my eie hart
te kyk. Jesus soek ook vandag ‘n nuwe gesindheid by my,
eerder as my offers. Wanneer mý veroordelende hart vandag
ontdek hoe siek my gees is, kan ook ék nóú terugkeer na die
Groot Geneesheer. Jesus sê self in bogenoemde teks:
die wat siek is, het die dokter nodig. Hy wil my genees...!

Ernest