“Niemand lap tog ou klere met ongekrimpte materiaal nie,
want die nuwe lap skeur die klere nog verder en die gat
word net groter. ‘n Mens gooi ook nie nuwe wyn in ou
velsakke nie. As jy dit doen, bars die sakke, die wyn loop
uit en die sakke is daarmee heen. Nee, ‘n mens gooi nuwe
wyn in nuwe sakke en so behou jy albei.” – Matteus 9:16-17.

Die vraag aan Jesus was waarom Hy en sy dissipels nie vas nie?
Die rede waarom Jesus en sy dissipels nie vas nie, was nie omdat
daar met vas iets verkeerd is nie, maar dat dit nie tóé die tyd
daarvoor was nie. Vas is ‘n teken van rou en verootmoediging
gewees, en dit doen hulle nie nóú wanneer die Bruidegom, Jesus,
by hulle is nie. Hy en sy gaste, dié aan wie barmhartigheid bewys
word, vier nou fees! Hulle vier nuwe lewe!

Die beeld wat Jesus gebruik van die nuwe lap en nuwe wyn dien
om die totaal nuwe lewe wat met Jesus se koms aangebreek het,
uit te beeld. Jesus se koms vra nou ‘n totaal nuwe lewe in Christus!
Die oue is verby, die nuwe het gekom! 2 Kor. 5:17 beklemtoon dit:
“Iemand wat aan Christus behoort is ‘n nuwe mens. Die oue is verby,
die nuwe het gekom.”

Ons kan nié die nuutheid van die Evangelie van Jesus Christus lap op
ons ou lewe nie. Ons kan nie die nuwe lewe in Christus giet in die vorm
van ons ou lewe nie! Nuwe wyn laat ou leer wynsakke bars omdat hulle
geen elastisiteit meer het nie.

Baie mense hoor die boodskap van die nuwe lewe in Christus en wil
dan die nuwe lewe soos ‘n nuwe lap op hul ou lewe vaswerk. Hulle wil
nie die ou lewe prysgee nie. Hulle wil iets van albei behou. Dan gaan
altwee natuurlik verlore. Net soos met nuwe ongegiste wyn wat ou
sakke laat bars as die wyn begin gis. Die ou lewe kan nié die nuwe lewe
akkommodeer nie! Die sakke en die wyn gaan verlore!

Kan dit wees dat Christus alles vra? Ja! Inderdaad! Iemand wat aan
Christus behoort is ‘n nuwe mens! Die oue is verby. Die nuwe het gekom!
Ons kan nie iets van die ou lewe probeer oorhou nie! Die woorde van
Jesus Christus doen altyd iets aan ons. Dit maak jou wat dit ter harte
neem inderdaad totaal nuut!

Ernest