“Pas op vir die mense. Hulle sal julle aan die
geregshowe uitlewer, en in die sinagoges sal hulle
julle gesel.” – Matteus 10:17.
Jesus van Nasaret het lyding en vervolging vir sy
volgelinge voorspel.

In die jaar 95 na Christus sit Johannes op die eiland Patmos,
waarheen hy verban is omdat hy die Woord van God en die
boodskap van Jesus verkondig het. In die jaar 64 na Christus
bereik die vervolging van Christene een van sy vele hoogtepunte
onder keiser Nero. Die apostel Paulus is vermoedelik ook in
daardie jaar onthoof. En meer as 2020 jaar nadat Jesus hierdie
dinge voorspel het, word enige een wat in Egipte in die strate
oor Hom praat steeds vervolg. So ook in baie ander lande.

Jesus Christus het ook vir sy volgelinge gesê dat Hy gevange
geneem sal word en doodgemaak sou word. Dat sy volgelinge
uitgeskel sal word, aan geregshowe uitgelewer sal word, en in
sinagoges gegesel sal word.

Watter profeet wat volgelinge wil werf sal sulke dwase dinge
kwytraak?
Watter profeet wat volgelinge wil werf sal vir hulle lyding,
vervolging en die dood voorspel?
Watter profeet sal dit so duidelik uitspel?
Hoe kon Jesus dit doen sonder vrees om sy volgelinge te
verloor?

Hy kon dit doen omdat Hy geweet het dat sy evangelie die
evangelie van waarheid is, en dat waarheid alleen die mense
kan oortuig en hulle waarlik vrymaak van sonde, vrees,
vervolging en die dood.

Jesus verower mense met die waarheid. Ons volg Hom ten
spyte van wat ookal, omdat ons wéét Hy alléén is die Waarheid.
In Johannes 14:6 sê Hy: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe.
Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.”
Die waarheid alleen oortuig mense uiteindelik. Nie mooi praatjies
oor ‘n rooskleurige toekoms en deurlopende gerief hier op aarde nie.
Jesus verower ons met die waarheid!
Ons hoor hoe Hy lyding vir ons voorspel. Ons hoor hoe Hy sê dat ons
die kruis moet opneem en Hom moet volg. En ons is nie bang nie!
Geloof in Jesus Christus bring ons by die vaste oortuiging dat God in
ons is, om ons is, en bo ons is. Dat ons onaantasbaar syne is en syne
sal bly! Net soos wat Jesus beloof het! Ten spyte van wat ookal!

Ernest