“Die koninkryk van die hemel is soos ‘n mosterdsaadjie,
die kleinste van al die soorte saad, maar as dit uitgegroei
het, is dit groter as die tuinplante en word dit ‘n boom. Die
koninkryk van die hemel is soos suurdeeg.” – Mat. 13:31-33.

Hoe sou die evangelie uiteindelik die uithoeke van die aarde bereik?
Jesus van Nasaret, wat in Palestina geleef en geleer het, Hy wat so
nederig en so sagmoedig was...Hý is die gestuurde van God, die Seun
van God, wat met sagmoedigheid en liefde die suurdeeg word wat die
wêreld verander! Wat ‘n vreemde suurdeeg! In die wêreld vol haat en
oorlog, vol hebsug en selfsug...kom die koninkryk van die hemel soos
suurdeeg. Vol liefde, selfversaking en waarheid. Jesus bring ‘n koninkryk
deur lyding, gehoorsaamheid en genade. En hierdie Man van Nasaret
voorspel dat sy suurdeeg die hele meel sal deursuur. Dat iets nuut en
heerlik die aarde sal inneem en uiteindelik oor alles wat boos is sal
triomfeer.

So is dit ook met die metafoor van die mosterdsaadjie. Die evangelie
van Jesus Christus groei bo ander gelowe uit. Miljoene vind beskutting
in die genade daarvan. Dit staan onvernietigbaar en triomfantlik ná al
die pogings om dit uit te roei. Dit is die triomf van die evangelie van
Jesus Christus. Die grootste triomf in die wêreldgeskiedenis. In hierdie
triomf deel die kinders van God. Elkeen wat deel word hiervan word
self ook suurdeeg. “...Die koninkryk van die hemel is soos suurdeeg.”
In hierdie triomftog deel elkeen wat kies om suurdeeg te wees.
Ons is God se medewerkers. Hiertoe is ons vrygekoop en geroep.
Christen-wees is suurdeeg-wees.

Ernest