“Toe sê Jesus: “As julle nie wegdraai van julle sondige
lewe en soos hierdie kindertjies word nie, sal julle beslis
nie in die koninkryk van God ingaan nie. Daarom is elkeen
wat so nederig soos hierdie kindjie word die belangrikste
in God se koninkryk.” – Matteus 18:33-34.
Tussen die groot manne wat beredeneerd stry oor die vraag
wie die belangrikste in die koninkryk van die hemel is, roep
die Grootste in die koninkryk van die hemel ‘n kindjie nader.
Hy, wat die grootste in die koninkryk van die hemel is, Hy wat
daar was toe die aarde uit niks geskep is.
Jesus roep ook ons nader soos Hy die kindjie nader roep.
Deur al die bladsye van die Woord roep Hy. Kom na My toe!
Maar ons staan terug en oorweeg eers ons alternatiewe opsies.
Sonder teenprestasie staan die kindjie daar. Sonder verweer.
Sonder enige iets om Hom aan te bied staan hy voor Jesus.
Hulpeloos. Totaal op Hom aangewese. Swak. Sonder slim
redenasies. Sonder pretensie. En dan sê Jesus:
Só is julle reg vir die koninkryk van God.
Voordat ons sinies geraak het. Of ‘n spotlag oor die Woord
gekry het. Voordat ons die genot van die wêreld begin aanbid
het en weier om dit prys te gee ter wille van die koninkryk van
God. Wanneer dit alles met ons gebeur het, is dit baie moeilik
om die koninkryk van die hemel in te gaan.
In God se kinders leef die alles oorheersende sekerheid dat ons
nie sonder ons hemelse Vader kan leef nie. Matteus 5:3:
“Gelukkig is dié mense wat weet hoe nodig hulle God het,
want hulle het deel aan sy koninkryk.” – NLV.
Ons staan soos hierdie klein kindjie voor Jesus.
Ons hele klein bestaan draai om Hom!
Geringstes is die belangrikstes.
Ernest