Matteus 24:42: “Wees dus waaksaam, want julle weet nie
watter dag julle Here kom nie.” – NLV.
Jesus vertel van vers 40 af dat twee persone saam op die
land werk. Die een sal saamgeneem word en die ander sal
agtergelaat word wanneer Hy kom. Twee vroue sal saam by
die meul koring maal. Die een sal saamgeneem word en die
ander sal agtergelaat word. Op die oog af lyk die persone
op die land en by die meul eenders. Tog eindig hulle nie op
dieselfde plek nie!
Op die dag wanneer die Here weer kom sal Hy, wat die harte
van mense ken, die wat aan Hom behoort as syne erken.
Op daardie dag sal Hy, wat alles weet van almal, dié wat Hom
liefhet en Hóm bo alles gekies het saam met Hom neem.
Die wederkoms van Jesus is een van die belangrikste
fokuspunte in ons lewens. Ons kan slegs sin in oënskynlike
sinloosheid vind indien ons ons wederkoms verwagting behou.
In die gewone sleur van elke dag, op die land en by die meul,
is dit nodig om met ‘n lewende wederkoms-verwagting te bly
leef as verteenwoordiger van die Here in hierdie wêreld.
Dit gaan oor meer as om maar net eerbaar te leef. Let op die teks:
“Wees dus waaksaam...” Dit gaan oor waaksaamheid wat ook ‘n
dringendheid impliseer ten opsigte van ons lewe vir die Here.
Ons is nie maar net op die land en by die meul nie. Ons is ook
daagliks besig met die Here se oes as sy geroepenes en gestuurdes
in hierdie wêreld!
Wie die wederkoms verwagting afsterf, sterf ook so maklik die
lewende verhouding af met die Bruidegom wat sy bruid kom haal
vir die ewigheid in sy teenwoordigheid! Gereedheid, waaksaamheid,
beteken ook dat ons van ons kant af deurlopend aan die verhouding
met die Bruidegom bou. So bly Jesus die middelpunt van ons lewe!
Leef waaksaam. Leef gereed!
Ernest