Johannes 3:5: “…Ek verseker jou, as iemand nie uit water
en Gees gebore word nie, kan hy so nimmer as te nooit in
die koninkrtyk van God ingaan.” – NLV.
Was daar al ooit ‘n belangriker nag-gesprek as hierdie een?
Nikodemus kom in die nag na Jesus toe. As Fariseër en ‘n leier
onder die Jode, volgens 3:1, kom hy in die nag sodat hulle nie
sien hy kom praat met Jesus nie. Hoe sou dit nie sy lewe omkeer
nie! Hy weet dat Jesus ‘n leraar is wat van God af gekom het!
Die diepsinnigste nag-gesprek van alle tye!
Jesus praat met Nikodemus oor ‘n onderwerp waarby geen mens
kan verbykom nie. Die wedergeboorte! Jesus sê die wedergeboorte
word deur God bewerkstellig. Die Goddelike daad waardeur dit
gebeur is net so onsigbaar soos die wind, wat tóg duidelik gevoel
en gehoor kan word. Jy kan nie die wind self “sien” nie, maar jy sien
en hoor en voel die effek daarvan.
Jesus sê in vers 7: “Moenie verwonderd wees as Ek vir jou gesê het
julle moet van bo gebore word nie”. Dit kan ook vertaal word met
“opnuut gebore word”. En dan vers 8: “Die wind waai waar hy wil.
Jy hoor sy suising, maar jy weet nie waarvandaan hy kom en waarheen
hy op pad is nie. Só is dit met elkeen wat uit die Gees gebore is”.
Die wedergebore mens weet dat hy wedergebore is, net soos die mens
weet wanneer hy deur die onsigbare wind aangeraak is. Die koers en
gang van die wind kan nie deur die mens beheer word nie. So kan ons
ook nie die werk van die Heilige Gees ten opsigte van wedergeboorte
beheer nie.
Vers 5, wat sê dat iemand uit water en Gees gebore moet word,
beteken dat die reinigende bloed van Jesus Christus ons sonde moet
afwas, en die Heilige Gees ons moet nuut maak!
Wedergeboorte en bekering...het ek ‘n kans en ‘n keuse?
Wedergeboorte is die onsigbare werk van God af deur die Heilige Gees.
Die magtige krag van God af wat my van binne af deurwaai. Hy doen alles!
Bekering is om nie uit die Wind te vlug of dit te probeer weerstaan nie.
Bekering is om my hele wese oop te maak en te pleit: Waai deur my,
o Gees van God, en maak my lewe totaal nuut!
“Só is dit met elkeen wat uit die Gees gebore is” – vers 8.
Ernest