“Dit verseker Ek julle, wie my woorde hoor en vertrou
op Hom wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy kom
nie in die oordeel nie, maar het reeds oorgegaan uit die
dood na die lewe.” – Johannes 5:24. NLV.
Ons skrik ons gewoonlik koud as ons ‘n dagvaarding vir bv.
‘n verkeerskaartjie vir ‘n verkeersoortreding ontvang,
waarvan ons weet dat ons skuldig is. Ons het die kamera
gesien. Ons het die spoed op ons spoedmeter gesien...
en ons het gewag vir die aanklag!

Juis oor beskuldigings en aanklagte ten opsigte van ons sonde,
wil Jesus hier met ons praat. Dit is nie net ‘n aardse boete wat
ter sprake is nie, maar ewige lewe of dood is op die spel!
Die wet van sonde en dood, Rom. 8:2, kla elkeen aan wat die
Seun van God nie aanvaar nie.
In Joh. 5:45 sê Jesus: “Moenie dink dat dit Ek is wat julle aankla
by die Vader nie...” Die wet van die sonde en die dood kla ons aan.
Lees gerus Romeine 8:1-17. Dit skryf treffend hieroor.

Die Woord van God vertel ook hoe die Satan ons dag en nag aankla
voor God en God wil oortuig dat sy skepsels die dood alleen verdien.
Want hulle hou nie die wet nie! Openbaring 12:10: “Die aanklaer
van ons medegelowiges is uit die hemel uit gegooi, hy wat hulle
dag en nag voor ons God aangekla het.”

Wanhoop is inderdaad om te weet hoe skuldig ek voor God is ten
opsigte van my sonde, en hoeveel grond die Bose het vir sy aanklagte
teen my!
En dan, in ons uur van wanhoop en radeloosheid kom staan die Here
Jesus Christus voor ons met hierdie woorde: “Dit verseker Ek julle,
wie my woorde hoor en vertrou op Hom wat My gestuur het, het die
ewige lewe. Hy kom nie in die oordeel nie, maar het reeds oorgegaan
uit die dood na die lewe.” – Joh. 5:24.

Elkeen wat die Here Jesus aangeneem het, het reeds die Goddelike
kwytskeldings brief in besit! Vrygeskeld van veroordeling!
“Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie.
Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het
jou vrygemaak van die wet van sonde en dood.” – Romeine 8:1-2.
Ons het nou deur die Heilige Gees die ewige lewe in Jesus Christus!
Omdat Jesus Christus in ons plek gesterf het, en die volle skuld in ons
plek betaal het, en ons sy woorde hoor en in die Vader glo wat Hom
gestuur het, is daar niks om meer oor skuldig te staan voor God nie!
So vry is ons in Hom! Glo dit en leef die nuwe lewe in Hom!
Nou reeds, en vir ewig!

Ernest