“Toe het Jesus vir die Jode wat in Hom begin glo het,
gesê: “As julle in ‘n noue verbintenis aan my boodskap leef,
is julle my egte navolgers; en julle sal begryp wat die waarheid
beteken, en die waarheid sal julle vrymaak.” – Johannes 8:31-32.
Dissipelskap is nie goedkoop nie. Dit is nie ongeërg nie, of vol
kompromieë nie. Dissipelskap is verseker ook nie self-gesentreerd
of louwarm nie. Jesus sê: As ons aan sy woorde getrou bly, is ons
waarlik sy dissipels, en sal ons die waarheid ken, en sal die waarheid
ons vry maak.
Watter soort woorde is dit waarvan Jesus praat?
Wel...om maar aan ‘n paar te dink...woorde soos:
Dat ons die Here ons God bo alles moet liefhê en ons naaste soos onsself!
Dat ons na al die nasies moet gaan en die mense sy dissipels moet maak.
Dat ons nie moet oordeel nie. Dat ons dié wat honger is moet voed, en dié
wat naak is moet klee. Dat ons heilig moet leef. Dat ons skatte in die hemel,
en nie op die aarde nie, moet bymekaarmaak. Dat ons vervolging en
belediging moet dra ter wille van die koninkryk van God.
Wanneer ons ons aan Jesus Christus onderwerp en in gehoorsaamheid
aan Hom begin lewe, gee Hy vir ons iets van onskatbare waarde naamlik:
Ons sal die waarheid ken! Met ons beperkte kennis van die waarheid voel
ons aan dat ons dan die verskil tussen dit wat eg is en dit wat vals is sal kan
onderskei. Dat ons Jesus Christus as die beliggaming van die Waarheid elke
dag beter sal leer ken. Hy het tog self gesê dat Hý “die weg en die waarheid
en die lewe” is. – Joh. 14:6.
Alles wat vanuit die leuen in ons lewe gebore word en elke saak waarin
die waarheid ontken word, vervreem ons van God. Toe Adam en Eva die
Satan se leuen as die waarheid aanvaar het, het hulle onmiddellik van God
vervreem geraak. En solank ons as sondaar-mens die waarheid oor ons
sonde-toestand ontken, is ons steeds op vlug, weg van God af, soos Adam
en Eva weggekruip het.
Wanneer ons die Waarheid ken, sal ons vry word.
Dan maak die Waarheid self, Jesus Christus, ons vry van dinge wat ons
nooit eers besef het, of as kettings gesien het nie. En vryheid is die lewe
in verbondenheid met Hom.
“As julle in ‘n noue verbintenis aan my boodskap leef,
is julle my egte navolgers; en julle sal begryp wat die waarheid beteken,
en die waarheid sal julle vrymaak.” – Joh. 8:31-32.
Ernest