God werk in almal se lewe. Party besef dit en ander nie.
Party aanvaar dit en ander nie. Party gee erkenning en lof
aan God, en ander nie.

Neem nou maar die lewens van Ragel en Lea, die vrouens van Jakob.
Lea was vasgevang in ‘n huwelik waarin sy getwyfel het aan die liefde
van Jakob vir haar. Sy was nie sy eerste keuse as vrou nie. Eintlik het
haar pa, Laban, haar met ‘n kullery aan Jakob gegee. God sien haar
ook in haar omstandighede raak. In haar hartseer en seerkry. Hy seën
haar al van vroeg af met kinders. Haar kinders se name het iets van haar
hartseer verwoord. Maar ook iets van die Here se goedheid. Veral haar
vierde kind was ‘n pryslied aan God! Genesis 29:35:
“Hierdie keer prys ek die Here”. Toe het sy die werk van die Here in haar
lewe raakgesien en erken met lof aan Hom. Sy naam was “Juda”, die een
oor wie mens God net kan prys.

Dit neem mense soms jare om God se goedheid in hul lewe raak te sien.
Eers met haar vierde kind het Lea se hartseer liedere verwissel met lofliedere.
Daar is nog kans in jou lewe vir lof! Sien God se werk in jou lewe raak en loof
en dank Hom daarvoor. Fokus van vandag af met lof en dankbaarheid op die
Here se teenwoordigheid in jou lewe. Hou aan daarmee totdat jou lof en
dankbaarheid die donker en hartseer kolle in jou lewe oorskadu.

Ook in Ragel se lewe is die Here aan die werk.
Terwyl haar suster Lea geseënd is met kinders, was sy kinderloos. Toe breek
God se genade ook vir haar oop. Josef word gebore! Ragel het daarvoor gebid
en toe het dit gebeur!
“God het op Ragel ag geslaan en haar gebed verhoor – Gen. 30:22.
Moenie dink jou gebede val op dowe ore by God nie. Hy hoor en verhoor dit.
Maar soos Hy wil, en om sy doel te bereik.

Jy kan ook soos Ragel bid en in die teenwoordigheid van God staan met jou
nood. Wanneer jou behoefte nie aangespreek word soos en wanneer jy dit
wil hê nie, beteken dit nie dat God nie jou gebed verhoor nie.
Die bekende kerkvader, Augustinus, se ma het langer as twintig jaar vir sy
bekering gebid. Tot op ‘n dag toe hy in Rome tot inkeer gekom het en ‘n
kragtige instrument in die Here se hand geword het wat die vroeë kerk gelei
het!

God werk in jou lewe. Besef dit en bly getrou en in oorgawe aan Hom met
jou hele lewe. God se doel met jou is groter as wat jy bid of dink. Dit geld
elke kind van God. Regtig. Want die Heilige Gees werk deur jou!

Ernest