Markus 1:9-11: “Ongeveer daardie tyd is Jesus deur Johannes
in die Jordaan-rivier gedoop. Dadelik toe Jesus uit die water
opstaan, sien Hy hoe die hemel oopgaan en die Heilige Gees
soos ‘n duif na Hom toe afkom. En ‘n stem uit die hemel het
gesê: “Jy is my geliefde Seun. Jy is ‘n kind so na my hart”.
Die Vader, Seun en Heilige Gees word hier genoem in
Goddelike teenwoordigheid. Die Gees daal neer en die Vader
praat oor sy Seun. God is nie een God wat om die beurt
verskillende “maskers” dra nie. God drie-enig is die God
Wie ons aanbid.
Hierdie is een van die treffendste gebeurtenisse!
Wat Jesus hier hoor, in menslike terme, is hoe trots sy Vader
op Hom is. “Jy is my geliefde Seun. Jy is ‘n kind so na my hart.”
Kan jy jou vir ‘n oomblik indink hoe Jesus dit moes beleef?
Ons kan nie. Hoe kan ons ons nou hier in Jesus se skoene plaas?
Hoeveel vreugde en blydskap moes Jesus nie beleef in die Vader
se woorde aan Hom nie?
Hierdie woorde is ook wat God die Vader vir sy kinders wil sê,
vir wie Hy so lief is dat Hy Jesus self laat sterf het vir hulle!
Luister mooi hierna: God is ook trots op jou wat sy kind is.
Jy is ook ‘n kind na sy hart. Dit is vir ons moeilik om dit te glo
omdat ons so baie van onsself weet. Al ons foute, sonde...
Die feit is, ‘n kind van God is in Jesus vrygespreek en regverdig
verklaar! God die Vader kyk in Christus na ons, en sien sy kinders
wat in Christus vrygespreek en nuut gemaak is! Die duiwel kan
ons nie meer aankla nie. Ons gaan as God se kinders na God toe,
met opregte belydenis en berou wanneer ons oortree het,
en soos ‘n volmaakte Vader omhels Hy ons met vergifnis en liefde,
as sy kinders!... in Jesus!
In Sefanja 3:17 praat God deur die profeet met sy volk, sy kinders,
kollektief. En tog bedoel God dit ook vir elkeen van sy kinders in
hierdie volk, indiwidueel: “Die Here jou God is by jou, Hy die
krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil tevrede in
sy liefde. Hy jubel en juig oor jou...”
God se woorde oor jou is die waarheid. Leef daaruit.
Jy is ‘n kind na God se hart. Sy kind!
Hy kyk deur Jesus na jóú, wat sy kind is!
Ernest